OUDTSHOORN NUUS - Berigte dat inwoners van die informele nedersetting, Hopeville, tussen die Oudtshoorn-gholfbaan en die begraafplaas, getraumatiseer is weens die grafte wat deesdae vyf meter van hul opslaanhutte gegrawe word, moet met 'n knippie sout geneem word.
So het Zyna Mduma, voorsitter van die Backyard Dwellers of Hope, vandeesweek aan Oudtshoorn Courant gesê toe sy oor dié kwessie gepols is.
Dit volg nadat sommige inwoners van Hopeville hulle kommer uitgespreek het omdat grafte reg langs sommige hutte gegrawe word en omdat hulle ook bekommerd is dat dit 'n Covid-gevaar kan inhou.
"Ons mense moet onthou dat ons eintlik inmeng met die begraafplaas se grond en ook Vyfdelaan se mense se omgewing ontwrig. Toe 'n paar van ons meer as 'n jaar gelede hier kom plak het, was dit met die doel om huise van die munisipaliteit te kry. Ons standpunt is nog steeds dat ons nêrens skuif voordat die munisipaliteit nie 'n stuk grond aan ons toeken nie - verkieslik die veld by die vliegveld in Wesbank."
Zyna het beklemtoon dat sy onwrikbaar is in haar standpunt dat die munisipaliteit nie die bykans 95 opslaanhutte en hul gesinne sommer net in Bridgton of Bongolethu gaan neerplak nie.
"Die munisipaliteit vergeet van 'n mens daar in die lokasie. Of ons kry huise in Wesbank, of ons laaste keuse is in die lokasie met huise, maar hokkies op ander grond is onaanvaarbaar - tensy dit in Wesbank is," het 'n vasberade Zyna gesê.
Daar is tans geen plek vir 'n muis op Hopeville se grond nie en die begraafplaas het die afgelope aantal maande so uitgebrei dat grafte skaars vyf meter van opslaanhutte gegrawe word.
Gholfklub word benadeel
Die Oudtshoorn-gholfklub hou voet by stuk dat die voortbestaan van die klub ernstig deur Hopeville bedreig word.
"Reeds vanaf November 2019 beset die Hopevillers die grond langs die gholfbaan onwettig, maar tot vandag toe is hierdie oortreding nog nie deur polisie en ons plaaslike munisipaliteit aangespreek nie. Sedertdien het ons 'n reuseprobleem met diefstal, beskadiging van ons bates en die gholfbaan self. Ons heinings is vernietig en daar is geen beheer oor toegang nie," het 'n verteenwoordiger van die gholfklub hierdie week gesê. Hy het ook gesê die klub se ledetal is besig om te verminder en sonder hulp vanaf plaaslike besighede, die SAPD, die munisipaliteit en die inwoners van Oudtshoorn, gaan die klub sukkel om die baan oop te hou vir lede en besoekers.
"Dit is hartseer om te sien hoe skilpaaie met klippe stukkend geslaan word, hoe die paar bokkies wat op ons baan gewy het deur honde gejag word, hoe kinders en vrouens eenvoudig nie meer alleen wil speel nie uit vrees vir hul veiligheid, hoe die gholfpenne gebreek en gesteel word en hoe die baan se grasoppervlak beskadig word."
Volgens die persoon sukkel die gholfklub reeds finansieel as gevolg van die inperking en kan hulle nie nog die bykomende kostes van skade wat aangerig word onbepaald bekostig nie. "Dus vra ons die Oudtshoorn-munisipaliteit om asseblief die onwettige grondbesetters te verwyder. Ons doen ook 'n beroep op die gemeenskap om ons klub steeds te ondersteun om te verseker dat dit kan oopbly.
"Dit is nie net die beste gholfklub in Oudtshoorn nie, dit is ons enigste."
'n Navraag oor die kwessie is aan die munisipaliteit gerig, maar teen gister was daar nog geen reaksie nie. Die kwessie is reeds verskeie kere by openbare vergaderings waar amptenare en raadslede betrokke was, bespreek.
Werkers grawe grafte etlike meters van Hopeville se opslaanhutte af. Foto's Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'