Update
BEAUFORT-WES NUUS - Die DA in Beaufort-Wes het Woensdag 21 Februarie hul Wyk 2-setel in die raad met 60,23% (1 151) van die totale stemme teruggewen.
Dit volg na hulle (die DA) een van hul raadslede, Kate Elexander, vir wanbetaling van ledegelde geskors het.
Die ANC het 31,71% (606) van die stemme gewen met die Karoo Democratic Front (KDF) 5,7% (109). Die EFF het nie aftrek gekry uit die kiesers nie en slegs 9 stemme verower.
Die twee onafhanklike kandidate het onderskeidelik 31 en 5 stemme gewen.
Met die DA se nuwe raadslid, Derick Welgemoed, nou in een van sy party se ses stoele, sit ses ANC-raadslede regoor hom in die 13-setel raad.
Die dertiende setel behoort aan die KDF se Noël Constable wat Sondag 18 Februarie opspraak in die dorp gemaak het, toe hy kennis gegee het dat hy sy koalisie met die DA opsê en sy steun agter die ANC gooi.
Beide Daylin Mitchell, DA-parlementslid vir Beaufort-Wes en Sentraal-Karoo, asook Jaco Londt, DA-parlementslid en voorsitter van die oosstreek, het gesê onderhandelings is aan die gang met die KDF om die DA/KDF-koalisie voort te sit.
"Die besluit berus egter by die KDF," het Londt gister, Donderdagoggend, gesê.
Wie van die DA en ANC die septer gaan swaai in Beaufort-Wes, rus nou op Constable se besluit.
Met sy steun aan die DA is Japie van der Linde (DA) die burgemeester.
Indien hy hom tot die ANC wend, kan Truman Prince (ANC) weer tot burgemeester verkies word.
Intussen bly dit 'n hangraad, hangende Constable se besluit.
Lees vorige berigte oor die tussenverkiesing hier:
- Beaufort-Westers terug na stemlokaal
- ANC swaai weer septer in Beaufort-Wes
- Beaufort-Westers terug na stemlokaal
- Beaufort-Wes kiesers terug na stembus
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'