BEAUFORT-WES NUUS - Op die vooraand van Woensdag 21 Februarie se tussenverkiesing in Beaufort-Wes, het die ANC weer beheer oor Beaufort-Wes se munisipale raad geneem.
Tot voor die DA-raadslid, Kate Elexander, geskors is en ‘n tussenverkiesing in Wyk 2 uitgeroep is, het die DA met ses raadslede in koalisie met die KDF (Karoo Democratic Front) die dorp regeer.
Die ANC het tans ses raadslede.
‘n Hangraad met vyf DA en een KDF teenoor die ANC se ses raadslede is verklaar.
Die DA se hoop om Wyk 2 terug te wen en verder in koalisie met die KDF te regeer, lê sedert Sondag aan skerwe, toe die KDF se raadslid, Noël Constable, as proporsionele raadslid sy steun aan die ANC toegesê het.
Al wen die DA hul setel terug, sal die ANC nou met die KDF aan hul kant, met een setel meer as die DA die dorp regeer.
Dit is onbekend of die voormalige ANC-raadslid, Truman Prince, weer die burgemeesterstoel sal inneem.
Die DA se lid van die Parlement vir Beaufort-Wes en Sentraal Karoo-distrik, Daylin Mitchell het Dinsdag gesê hy weet nog nie wat die nuwe koalisie se planne is nie.
Constable en Prince kon nie telefonies vir kommentaar bereik word nie.
Dis nog onbekend of Truman Prince weer Beaufort-Wes se burgemeester sal wees.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, en aanlyn.
Lees vorige berigte oor die tussenverkiesing hier:
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Klein Karoo nuus'