PRINS ALBERT NUUS - Net ses maande nadat 'n KGP/ANC/PA-koalisie ná die munisipale verkiesing beheer van die Prins Albert munisipale raad oorgeneem het, het die DA twee van die drie top-raadsposisies vir dié party teruggevat – met die hulp van die KGP-burgemeester wat tot onlangs met die ANC en PA saamgewerk het.
Linda Jaquet is verlede week tydens 'n spesiale raadsvergadering as die nuwe onderburgemeester verkies en Stoffel Botes is die nuwe speaker.
Die burgemeester, Margy Jaftha (Karoo Gemeenskapsparty) behou vir eers haar pos, maar staar nou skorsing uit haar party in die gesig omdat sy geweier het om te swig onder druk van haar koalisiekollegas. Jaquet en Botes was voorheen in dié poste totdat die vorige burgemeester, Goliat Lottering (KGP), byna twee jaar gelede sy koalisie met die DA verbreek het en met die ANC in vennootskap getree het.
ANC-lede is toe in beide die onderburgemeester- en speakerpos aangestel.
Nadat die DA in die tussenverkiesing in November verlede jaar drie uit sewe raadsposte verower het, het die KGP/ANC toe met die PA 'n vennootskap gesmee en die onderburgemeesterpos aan Arnold Mackay (PA) gegee.
Die woelinge in die raad kom nadat Jaftha haar by die DA geskaar het om mosies van wantroue in te stel teen Mackay en die vorige ANC-speaker, Elsabé Maans.
In 'n brief (gedateer 13 April) aan die waarnemende munisipale bestuurder, Aldrick Hendricks, skryf Jaftha, Jaquet, Botes en Sydney Koonthea (DA) dat Maans as voorsitter van die raad 'n spesiale raadsvergadering wat vir 29 Maart geskeduleer was, asook opvolg-raadsvergaderings, formeel uitgestel het in 'n poging om die goedkeuring te voorkom van onder meer die voorgestelde geïntegreerde ontwikkelingsplan (2022 – 2027), die voorgestelde begroting (2022/23), die jaarverslag (2020/21) en die aanstelling van 'n uitvoerende hoof: finansies. Volgens dié vier het Maans die verantwoordelikhede van die raad gekortwiek, wat deursigtige regering en openbare deelname aan bepaalde prosesse betref.
Haar weiering om die spesiale raadsvergadering te belê toon dat sy Prins Albert se mense keer om waarde tot die dorp toe te voeg, lui die mosie.
In die wantrouemosie teen Mackay beskuldig Jaftha, Jaquet, Botes en Koonthea vir Mackay van inmenging met die aanstelling van die nuwe uitvoerende hoof: finansies op 'n raadsvergadering op 18 Maart 2022, asook die aanstelling van deelnemers aan die Uitgebreide Openbare Werke-program (EPWP) in Klaarstroom einde Februarie.
Op die vergadering van 18 Maart het Mackay, volgens die mosie, sonder kennisgewing vooraf die CV van 'n nuwe kandidaat vir dié belangrike finansiespos aan raadslede uitgedeel en voorgestel hý word aangestel – dit terwyl hulle reeds besig was om oor twee kandidate op die kortlys te besin.
Mackay word in die mosie beskuldig van 'n oortreding van die gedragskode vir raadslede.
Maans, wat haar briewe steeds as "voorsitter van die raad" onderteken, het op 20 April aan Hendricks geskryf dat sy geen raadsvergaderings sal belê totdat hy (Hendricks) nie 'n regsmening oor Jaftha se status as raadslid ingewin het nie.
"Hiermee lig ek u amptelik in van die skrywe wat ek as voorsitter van die Prins Albert munisipale raad ontvang het, waarvolgens die lidmaatskap van raadslid Magrieta Jaftha permanent opgeskort is uit die KGP, aldus die strukturewet. Ek het die munisipale bestuurder versoek om die minister van plaaslike owerheid en die OVK dienooreenkomstig in te lig en 'n regsmening op sy versoek te bekom."
Jaftha het, ná haar skorsing uit die KGP, die geleentheid gehad om appèl hierteen aan te teken.
Dié veertien-dag-appèltydperk verstryk vandeesweek.
Sou haar skorsing bekragtig word, sal 'n tussenverkiesing in haar wyk gehou moet word.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'