Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Hierdie tussenverkiesing moet ‘n les aan die DA wees om vinniger op te tree teen raadslede wat skade aanrig.
Dit was die woorde van Jaco Londt, die DA se provinsiale voorsitter in die Wes-Kaap vanoggend net na middernag. Oudtshoorn Courant het met hom gesels terwyl daar op die finale uitslae van gister se tussenverkiesing gewag gewag is.
Teen middernag was die uitslae in Wyk 4 en Wyk 10 pas bekend en daar was gewag op Wyk 5. Maar die skrif was toe reeds aan die muur dat die DA se gesloer met die oplossing van die interne struwelinge in die Oudtshoorn-raad hulle duur te staan gekom het.
Die uitslae van Wyk 5 wat om ongeveer 01:00 vanoggend ontvang is, het dit bevestig. Die DA het Wyk 4 met ‘n skrale 14 stemme gewen terwyl die ANC Wyk 10 en Wyk 5 oortuigend gewen het.
Beide Londt en Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn, het egter gesê dat ondanks die verliese, is die DA steeds in beheer van Oudtshoorn danksy hulle samewerkingsooreenkoms met Sarco en Icosa.
Daar was ses onafhanklike kandidate waarvan die drie raadslede wat verlede maand uit die DA bedank het, deel was.
Kyk video's hieronder:
Na gister se verkiesing sien die setels in die raad as volg uit:
- DA 12, ANC 9, Icosa 2, Sarco 1 en EFF 1 vir ‘n total van 25
Die volledige uitslae van die tussenverkiesing wat teen vanoggend ontvang is, is as volg:
- Wyk 4: DA 505 (Felix September), ANC 491, Onafhanklikes (E Fortuin 77 en M Nyuka 11), GOOD 66 en EFF 12
- Wyk 5: ANC 490 (Naomi Jonkers), DA 379, Onafhanklikes (A van Niekerk 122, H Ruiters 32 en W Bezuidenhout 221), GOOD 193 en EFF 17
- Wyk 10: ANC 671 (Booi Berry), GOOD 427, DA 333, Onafhanklike (N Soman) 127 en EFF 50
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'