Update
OUDTSHOORN NUUS - As politieke partye dalk gedink het kiesers steur hulle nie aan wat binne partye aangaan nie, was die tussenverkiesing in drie wyke in Oudtshoorn verlede week 'n wekroep om te herbesin.
Die interne toutrekkery wat sedert 2019 binne die DA op die dorp aan die gang was, en die skynbare onvermoë van die DA se topbestuur om daadwerklik in te gryp het dié party by die stembus duur te staan gekom.
Waar die DA in die 2016 plaaslike verkiesing lag-lag 14 van die raad se 25 setels ingepalm het, het hulle verlede Woensdag net-net daarin geslaag om een van die drie vakante wyke met slegs 14 stemme voor die ANC weg te raap. In die ander twee wyke het die ANC met 'n oortuigende meerderheid gewen.
Daar was vakatures in wyke 4, 5 en 10 nadat drie DA-raadslede voorverlede maand bedank het. Ewa Fortuin, Hendrik Ruiters en Nellie Soman was drie van die raadslede wat hulle in die binnegeveg in die DA aan die kant van die vorige burgemeester, Colan Sylvester, geskaar het. Dié drie het as onafhanklike kandidate in hulle vorige wyke gestaan, maar geen hond haaraf gemaak nie.
Die DA se nuutverkose provinsiale leier, Jaco Londt, en Oudtshoorn se parlementslid, Eleanor Bouw-Spies, het Woensdagaand tot na middernag gewag vir die uitslae. Na die aankondiging van die uitslae het Londt in 'n onderhoud gesê: "Hierdie tussenverkiesing moet 'n les aan die DA wees om vinniger op te tree teen raadslede wat skade aanrig." Hy het gesê die DA het met hulle optrede om die kwessie in die plaaslike DA-raad so lank te laat voortduur die mense se vertroue verloor.
Die vraag oor dié kwessie is ook verlede Maandag aan John Steenhuisen, federale leier van die DA, gevra. Tydens 'n vergadering met enkele rolspelers in die sake-, landbou- en toerismesektor het die media vir Steenhuisen gevra waarom daar nie vroeër ingegryp is om die eskalasie van die tweestryd binne die DA in Oudtshoorn op te los nie. Sy antwoord was dat daar nie veel gedoen kan word om mense wat stroomop is te verander nie en dat dit beter is om van hulle ontslae te raak. Hy het die versekering gegee dat daar in die toekoms daadwerklik opgetree sal word teen mense wat die DA skade berokken en die bestuur van plaaslike regerings ondermyn.
Chris Macpherson, burgemeester, het op sy beurt gesê dat alhoewel die DA twee setels verloor het, hulle steeds aan die stuur staan danksy 'n samewerkingsooreenkoms met twee kleiner partye, te wete Sarco en Icosa.
Jongilizwe Tyatya, die ANC se hoofsweep in Oudtshoorn het gesê die uitslae wys die steun wat die ANC geniet en met die ondersteuning en vertroue van die inwoners van die dorp sal die ANC aanhou veg om die omstandighede van inwoners van Oudtshoorn te verbeter.
Na afloop van Woensdag se tussenverkiesing het die DA nou 12 setels op die raad, die ANC het nege, Sarco een, Icosa twee en die EFF het een.
Die drie verkose lede sal met die eerste raadsvergadering in Januarie ingesweer word, maar is reeds volwaardige raadslede aangesien die OVK hulle verkiesing reeds bevestig het.
Die volledige uitslae van verlede week se tussenverkiesing was as volg:
Wyk 4: DA 505 (Felix September), ANC 491, Onafhanklikes (E Fortuin 77 en M Nyuka 11), GOOD 66 en EFF 12
Wyk 5: ANC 490 (Naomi Jonkers), DA 379, Onafhanklikes (A van Niekerk 122, H Ruiters 32 en W Bezuidenhout 221), GOOD 193 en EFF 17
Wyk 10: ANC 671 (Booi Berry), GOOD 427, DA 333, Onafhanklike (N Soman) 127 en EFF 50.
Booi Berry van die ANC is die nuwe raadslid vir Wyk 10.
Felix September van die DA is die nuwe raadslid vir Wyk 4.
Naomi Jonkers van die ANC is Wyk 5 se nuwe raadslid. Foto's: Verskaf
Vorige artikel: DA kry bloedneus in tussenverkiesing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'