OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se nuwe burgemeester, Chris Mcpherson van die DA, het Dinsdag 5 Julie tydens die bekendstelling van sy nuwe burgemeesterskomitee, gesê al 25 raadslede het 'n rol om te speel ten einde Oudtshoorn se vooruitgang te verseker.
"Ons benadering gaan hemelsbreed van die ANC s'n verskil en ons beoog om die opposisie op verskillende komitees te akkommodeer omdat ons graag almal se deelname wil hê om die dorp reg te ruk. By ons bestaan ook geen konsep van 100 dae nie: dis elke dag jou beste lewer."
Mcpherson het ook gewaarsku teen politieke inmenging van buite en gesê dit sal nie geduld word nie.
Die samestelling van 'n nuwe burgemeesterskomitee volg nadat Suid-Afrika se jongste burgemeester,
Chad Louw (25), verlede Donderdag, na slegs sewe maande in die warm stoel, sensasioneel deur die DA-alliansie uit die kussings gelig is. Dieselfde lot het Louw se onderburgemeester Leon Campher (Advieskantoor), wat saam met hom in Dysselsdorp woon, sowel as vir speaker Colan Sylvester (OGI), getref.
Nuwe leierskap 'onwettig'
Louw het in reaksie op Oudtshoorn se nuwe leierskap gesê dit is onwettig. "Ons as die ANC en ANC-koalisie sal regstappe neem. Alle raadslede wat hierdie onwettige vergadering bygewoon het, sal die regskoste persoonlik dra.
"As die ANC sal ons aanhou veg vir ons mense, hetsy in die regering of opposisie. Ons sal voortgaan om die waardes en kernbeginsels vir hierdie dorp te hervestig wat die vereniging van die mense van Oudtshoorn insluit, en ons sal voortgaan met die stryd vir fundamentele politieke, sosiale en ekonomiese verandering," het Louw gesê.
Nuwe komitee
Die nuwe burgemeesterskomitee is James du Preez (DA – Finansies), Barbara Owen (Icosa - beplanning en ontwikkeling), Raymond Wilschut (DA – Korporatief), Vlancio Donson (Icosa – Gemeenskapsdienste) en Johan Fourie (Infrastruktuur).
Verloop van magsoorname
Ofskoon dit teruggetrek is, het PA-raadslid Suzane Jansen (ANC-alliansievennoot) aanvanklik die week voor die magsoorname 'n mosie van wantroue - wat skynbaar deur Campher ondersteun is - teen Louw gebring.
In Donderdag se sitting het Vlancio Donson (Icosa) van die DA-alliansie op sy beurt vir 'n dringende mosie van wantroue in Campher gevra wat deur die meerderheid raadslede (13)
aanvaar is.
Toe die DA-alliansie egter na stemming wou oorgaan, het Sylvester beswaar aangeteken en gesê dat dié kennisgewing van die mosie nie vooraf aan Campher gegee is nie, en dus eers Maandag ter tafel gelê kan word.
Donson het egter volgehou dat die mosie reeds aanvaar is, waarna die speaker en die ANC-alliansie die raadsaal woedend verlaat het.
Dit het die weg gebaan vir mosies van wantroue in beide Louw en Sylvester, wat soos in Campher se geval, in hul afwesigheid deur 'n meerderheidstem uitgestem is. Louw is toe deur Mcpherson as burgemeester vervang, terwyl Johan Allers (VF Plus) die speakerstoel by Sylvester oorgeneem het.
Mlandeli Nyuka van Suid-Kaap Saamstaan is as beloning vir samewerking met die DA-alliansie in Campher se plek as onderburgemeester verkies.
Agtergrond
Die DA-alliansie se magsoorname volg nadat die geskorste raadslid, Nyuka van Suid-Kaap Saamstaam, sy terugkeer na bykans twee maande gemaak het.
Nyuka se terugkeer is moontlik gemaak nadat 'n oënskynlike Suid-Kaap Saamstaan-faksie, 'n paar dae voor dié raadsvergadering uitspraak ontvang het dat hul hofaansoek om Nyuka as amptelike korrespondent van die party te verwyder, deur die verkiesings-hof ter syde gestel is.
Nyuka, wat voor sy skorsing 'n toegewyde ANC-alliansie lid was, het onmiddellik met sy terugkeer tydens Donderdag se raadsvergadering by die DA-alliansie sy plek ingeneem wat 'n vroeë aanduiding was dat hy sy rug op die ANC-alliansie gedraai het.
Hierdie ommeswaai het beteken dat die DA-alliansie toe 13 setels (DA-7, Icosa-2, VF Plus-3, Suid-Kaap Saamstaan-1) het teenoor die ANC-alliansie se 12 (ANC-8, PA-1, Advieskantoor-1, Good-1, OGI-1).
Die eerste skote het onmiddellik daarna geklap toe dit blyk dat Nyuka, soos verwag, die beslissende stem was wat met die DA-alliansie (VF Plus en Icosa) gestem het om Anel Berry (DA) as nuwe hoofsweep in te stem; oomblikke nadat Nomsa Jaxa (ANC) as hoofsweep bedank het.
Chad Louw (links) en Leon Campher in diep gesprek tydens verlede Donderdag se raadsvergadering
Die nuwe burgemeesterskomitee is voor, van links: Johan Fourie (tegnies), Chris Mcpherson (burgemeester) en Barbara Owen (beplanning en ontwikkeling). Agter: Vlancio Donson (gemeenskapsdienste), Raymond Wilschut (korporatief) en James du Preez (finansies). Foto’s: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'