OUDTSHOORN NUUS - Werkers van die CWP (Community Workers Program) het Woensdagoggend voor die Oudtshoorn-munisipaliteit saamgedrom om hul misnoeë te kenne te gee oor aangeleenthede wat volgens hulle eenvoudig ignoreer word.
Volgens Chantel Saayman, leier van die groep werkers, word hulle tans minder as R12 per uur betaal terwyl die minimum nasionale tarief R20 per uur is.
"Toe ons kontrakte geteken het was daar in ons posbeskrywing duidelik gestipuleer dat ons ook op 'n akademiese vlak deur middel van kursusse ontwikkel sal word."
Sommige werkers is al vir bykans agt jaar in diens van die CWP sonder enige sertifikate om daarvoor te wys, het sy gesê. Die werkers is bewus dat die Oudtshoorn-munisipaliteit slegs tussengangers tussen hulself en die departement van koörporatiewe bestuur is, maar "as owersiener van hierdie projek is dit die Oudtshoorn-munisipaliteit se plig om toe te sien dat ons griewe beantwoord word," sê sy.
"Al wat ons verlang is 'n noodvergadering tussen ons (CWP), departement van koörporatiewe bestuur en die Oudtshoorn-munisipaliteit" Tot dusver het die Oudtshoorn-munisipaliteit egter botweg geweier om ons versoeke te eerbiedig, het 'n moedelose Saayman oor die luidspreker gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'