PRINS ALBERT NUUS - Volgens die onderburgemeester en voorsitter van Prins Albert se toerismevereniging, Linda Jaquet, het die dorp nou die hoogste getal Covid-19-gevalle sedert die pandemie die land in Maart vanjaar getref het.
Die afgelope Maandag het vyf inwoners positief getoets by die plaaslike hospitaal en Dinsdag het negentien inwoners simptome van die siekte getoon.
“Dit sluit nie mense in wat privaat getoets is nie. Die plaaslike hospitaal het geen beddens beskikbaar nie. Ons moet nou almal na onsself omsien, sowel as die mense naaste aan ons. Dra asseblief jou masker wanneer jy jou huis verlaat. Onthou om ’n sosiale afstand te handhaaf. Vermy groot byeenkomste of groot groepe. Was jou hande gereeld.”
Dele van Prins Albert se formele sektor is gesluit en van die dorp se sosiale en kultuurbedrywighede is gekanselleer as gevolg van die toename in Covid-19-infeksies.
Die afdeling finansiële en tegniese dienste van die munisipaliteit is tot verdere kennisgewing toe en die plaaslike tak van Absa open eers weer Maandag met net twee personeellede nadat dit vroeër vandeesweek bedrywighede moes staak omdat sommige van sy personeellede met Covid-19-gevalle in aanraking was en in kwarantyn geplaas is.
Die dorp se jaarlikse Kersmark, sowel as beplande bedrywighede dié naweek in die woonbuurt Noordeinde se jeugsentrum is afgelas.
In ’n verklaring sê die munisipale bestuurder, Anneleen Vorster, onder die amptenary is daar tans agt Covid-19- positiewe personeellede, met verskeie ander in kwarantyn en isolasie. “Dit het ongelukkig ’n negatiewe uitwerking op ons operasionele bedrywe en ons moes die tegniese en finansiële kantore op die dorp sluit tot verdere kennisgewing. Betalings kan by die administratiewe gebou gedoen word. Alle navrae en klagtes, asook versoeke vir die skoonmaak van afvoerpype kan gedurende kantoorure by die administratiewe gebou gedoen word.”
Munisipale noodnommer: 082 220 0848.
* Luidens ‘n mediaverklaring van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het 69 mense in Prins Albert al positief getoets vir Covid-19, van wie 44 herstel het.
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'