OUDTSHOORN NUUS - ’n Voormalige prinsipaal van Bergsig Primêr in Bridgton, Connie Stuurman (73), is op Donderdag 10 November na ‘n lang siekbed oorlede.
Stuurman het sy onderwysopleiding aan die destydse Onderwyskollege Suid Kaapland (OKSK) ontvang en in 1972 by Bergsig begin skoolhou.
Hy is in 1982 tot departementshoof bevorder en twee jaar later tot adjunk-prinsipaal. Hy is in Januarie 1995 bevorder tot senior adjunk-prinsipaal en het na die uittrede van die prinsipaal, Japie Coetzee, tot sy uittrede in 1997, as prinsipaal waargeneem.
Coetzee het die week hulde gebring aan sy jare lange kollega.
Volgens hom het Stuurman ’n onmisbare rol gespeel in die opvoeding in die algemeen en Bergsig in besonders. ‘n Man wat deel was van so baie sport- en ander byeenkomste.
“Baie oudleerders en kollegas sal Connie onthou as iemand wat beginselvas was, goeie leierseienskappe gehad het en altyd bereid was om ‘n helpende hand uit te reik. Hy het nooit aan gesprekke wat op konflik sou uitloop deelgeneem nie, maar was altyd beskikbaar vir oplossende gesprekke.”
Volgens Coetzee sou Stuurman ook altyd teenwoordig wees op tye en plekke waar en wanneer dit nodig was om ‘n verskil te maak. Hy was ‘n aandagtige luisteraar en altyd eerste om advies te gee. As voorligtingonderwyser was hy baie gewild onder die leerlinge en in ‘n posisie waar leerders hom vertrou het en sensitiewe kwessies met hom bespreek het. Hy was vir baie hul “favourite onnie”.
Volgens Coetzee was Bergsig se prinsipale oor die jare altyd groot sportmanne en daarom het die liefde vir sport ook deel van elke onderwyser geword.
Volgens hom het Stuurman ontwikkel in ‘n goeie atletiekafrigter en vir jare spanbestuurder van Bergsig se atletiekspanne.
“Dankie Mr. Connie dat jy saam met my as deel van Bergsig se bestuurspan gedien en gehelp het om Bergsig die skool te maak waar dinge gebeur het. Dankie vir wedersydse respek, liefde vir kollegas, leerders en ouers. Jou arbeid hier op aarde is nou verby en gun ons jou die rus.”
‘n Gedenkdiens word op Donderdag 17 November om 18:00 in die Bridgton United Congregational Church vir Stuurman gehou.
Die begrafnisdiens vind Saterdag om 11:30 in dieselfde kerk plaas en die huisdiens te Proteastraat 29, begin om 10:30. Stuurman laat sy vrou, Leonie, ‘n seun, Alroy, twee dogters, Connilee en Tesslynne en ses kleinkinders agter.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'