DYSSELSDORP NUUS - Hulle wil help waar hulle kan.
So sê 'n groepie inwoners van Dysselsdorp wat 'n organisasie Dysselsdorp Community Helping Hands op die been gebring het om diegene met wie dit moeilik gaan op hul manier te wil help.
"Dit is 'n droom wat verwesenlik en bewaarheid is," sê die voorsitter, Adam Williams, nadat hulle verlede Donderdag aan sowat 176 volwassenes en kinders iets gegee het om te eet.
"Ons stoutste verwagtinge is oortref en ons is groot dank verskuldig aan die pastoor en kerkraad van die Pinkster van Christus Kerk in SA wat die kerk vir ons beskikbaar stel.
"Vir baie van die mense was dit soos manna uit die hemel en ons beplan om dit ten minste drie keer per week te doen.
"Om 'n stukke brood vir 'n honger mens te kan gee is 'n voorreg."
Volgens Williams is die DCHH 'n organisasie wat gestig is uit die gemeenskap en vir die ondersteuning aan die gemeenskap van Dysselsdorp waar armoede en werkloosheid hoogty vier.
"Ons glo dat die organisasie wat reeds geregistreer is as nie-winsgewend met die hulp van die Here van krag tot krag sal gaan."
Williams het sy dank uitgespreek teenoor Market Fisheries (Fruit & Veg afdeling), Cornel Coetzee, Luita van Rooyen en Corra van Rooyen en gevra indien daar enigeen is wat die organisasie met 'n bydrae wil help, om 073 1455 644 of 083 9771 607 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'