OUDTSHOORN SPORTNUUS - Die Collegians-rugbyklub het verlede week All Blacks op die Bridgton-sportterrein (Die Plate) in 'n vriendskaplike wedstryd met 19-15 geklop nadat hulle reeds teen rustyd met 7-5 voorgeloop het.
Dit was 'n wedstryd waarin geen span bes wou gee nie en die telling weerspieël dat die oorwinning inderdaad nie a walk in the park was nie.
Collegians se punte is aangeteken deur Shurven Slinger (agsteman), Octavia Goliath (slot) en Donovan le Roux (vleuel) wat agter die doellyn gaan kuier het.
Collegians se kaptein, Michael Jonkers, het na die wedstryd bevestig dat dit 'n klipharde wedstryd was wat in goeie gees gespeel is.
"Ons as span wou graag hierdie wedstryd ter nagedagtenis aan ons geliefde afrigter "Oom Seppie" opdra wat verlede jaar oorlede is. Dit was regtig vir ons as spelers, 'n rolmodel om na op te kyk omdat hy in sy loopbaan by albei klubs diep spore getrap het.
"Die wedstryd was ook ter ere van ander rugbylegendes en getroue ondersteuners gespeel wat ons verloor het in die Covid-19-tydperk. Uit 'n persoonlike perspektief was dit weer goed om op 'n volgepakte plate te kon speel voor ons mense en om ook die jongmanne wat by die klub aangesluit het 'n proesel te gee van wat op hulle wag in die superliga-B-kompetisie, " het Jonkers gesê.
Collegians se volgende wedstryd is Vrydagaand in die plate teen Spring Roses.
Michael Jonkers, slot en kaptein van Collegians, rank hoog in die lynstaan. Foto's: Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'