CALITZDORP NUUS - Die inisiatief van Calitzdorpers vier jaar gelede, om sonder borgskappe in te spring en elke winter 'n fees aan te bied werp vrugte af. Nadat 'n groot borg sowat vier jaar gelede onttrek het, kon die gewilde Portfees nie meer aangebied word nie. Inwoners en sakelui het egter besluit om uit eie sak 'n fees aan te bied. Die vrug van hulle toewyding is die Winterfees wat jaarliks groei en vanjaar van Vrydag 15 tot Sondag 17 Junie aangebied word.
Die spoorwegstasie en die dorp se gewilde wynkelders en restaurante is weereens die plek waar 'n vol program aangebied word. Die fees begin sommer vroeg op Vrydag 15 Junie om 09:00 met 'n wynproe by De Krans wat die hele dag duur.
Daar is 'n Boules-kompetisie ('n variasie van rolbal), die gewilde ete van die gemeenskapskas en kerkorreluitvoerings op Vrydag. 'n Verskeidenheid stalletjies sal vir die duur van die fees by die stasie wees.
Saterdag beloof 'n propvol program met rolbal, veerpyltjies, etes, musiek, 'n talentkompetisie, keldertoere, modeparade, straatpartytjie en selfs 'n ete in misterie gehul. Die fees eindig op Sondag 17 Junie om 13:00.
Die feeskomitee was hierdie week byeen om die program te finaliseer. Calitzdorp is die ideale feesdorp aangesien dit slegs 50 km vanaf Oudtshoorn aan die een kant en 50 km vanaf Ladismith aan die ander kant geleë is.
Vir besoekers wat wil oorslaap is daar genoeg akkommodasie by die onderskeie gastehuise en hotelle beskikbaar.
Vir meer inligting kontak Calitzdorp-toerisme by 044 213 3775 of per e-pos by tourism@calitzdorp.org.za of besoek die webtuiste: www.calitzdorp.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Hessequa nuus'