CALITZDORP NUUS - Die Calitzdorp Expressed-fees vind vanaf 17 tot 19 Junie plaas.
Volgens Erina Meiring van Calitzdorp-toerisme, spruit die geleentheid uit die sukses van die vorige Port-feeste en ook die Winterfees wat oor die jare in Calitzdorp gehou is.
"Calitzdorp Expressed is 'n viering van die kreatiwiteit en diversiteit van ons klein dorpie. Besoekers word genooi om die uniekheid van Calitzdorp te kom beleef," het sy gesê.
Dié Karoo-dorp is wêreldwyd bekend vir hul fantastiese wynplase ons spog met sewe van die bestes: Axe Hill, Boplaas, Calitzdorp Kelders, De Krans, Du`SwaRoo, TTT Kelders en Peter Bayly.
Die eerste ses kelders is almal in die dorp en Peter Bayly is net 'n klein entjie in die rigting van Groenfontein.
Tydens die fees kan besoekers die kelders met die hop-op-hop-af-plaasstylvervoer op die Tinta- en Hannepoot-roetes besoek.
Calitzdorp spog ook met 'n groot verskeidenheid restaurante waar feesgangers enigiets van pizza, regte boerekos tot Indiese kos kan geniet.
Wanneer feesgangers moeg gefees is kan hulle in enige van die gastehuise of kampplekke gaan rus.
Daar sal ook hope vermaak van plaaslike kunstenaars, kore en dansers wees.
"Besoekers kan ook die vetplantuintoer of die historiese staptoere gaan doen. Die NG kerk sal die middelpunt van die fees wees waar feesgangers ook 'n draai by die basaar kan maak."
Volgens Meiring sal daar 'n beperkte hoeveelheid Calitzdorp Expressed-paspoorte wees waarmee besoekers gratis toegang tot die wynroete-vervoer kan kry en beperkte gratis wynproegeleenthede kan bywoon. Paspoorthouers kry ook 'n #calitzdorpexpressed wynglas.
Op die paspoort sal 'n kaart wees waarop die venue's aangedui sal word en ook aanwysings van waar pryse en 'n super-hamper gewen kan word.
Volg gerus hul Facebook- en Instagram-blaaie by #calitzdorpexpressed. Vir meer inligting kontak Kevin Taylor by 082 469 8143 of stuur 'n e-pos aan taylorklb@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'