Die staat staan borgtog teë.
'n Immigrasie-offisier van binnelandse sake, Mmeli Coko, het in die hof getuig dat Guardner Govere (24), 'n Zimbabwiër, onwettig in die land is en dat sy werkspermit volgens hulle rekords al in 2013 verval het. Volgens hom kan hy ook nie sê of die paspoort wat hy het wettig is nie omdat daar slegs kopieë beskikbaar is. Die oorspronklike paspoort het in die ongeluk vermis geraak.
Govere het verlede Vrydag reeds sy eerste verskyning gehad. Hy verskyn op 10 klagtes van strafbare manslag en die oortreding van die immigrasiewet.
Hy het Vrydag in sy bebloede uniform wat hy die dag van die ongeluk aangehad het in die hof verskyn en het heeltyd na sy voete gestaar. 'n Tolk is ook geroep omdat Govere se huistaal Shona is. Dit is een van 16 amptelike tale in Zimbabwe.
Coko het verder getuig dat hulle 'n track-and-trace sisteem het wat hulle gebruik het om Govere se bewegings in en uit die land na te gaan. Volgens dié sisteem het hy net in April 2012 die land binne gekom. Dit stem nie ooreen met die stempels wat op die afskrif van die paspoort is nie. Hy het ook getuig dat 'n persoon oor die algemeen met of sonder 'n paspoort die land kan verlaat deur oor 'n heining te spring.
Die ondersoek beampte, ao. Martin le Roux, het ook getuig en gesê Govere kan nie borgtog kry nie omdat hy onwettig in die land is en sy amptelike paspoort steeds vermis word.
Hy het getuig dat daar verklarings van passasiers is waarin hulle sê hulle het met Govere gepraat terwyl hy bestuur het en gesê dat hy te vinnig ry. Hulle het ook in die verklarings gesê dat die bus op 'n stadium gevaarlik oor die pad geswenk het.
Govere het ook self in sy borgtogaansoek getuig. Hy het aangedui dat hy onskuldig gaan pleit in die verhoor omdat hy weet hy nie skuldig is nie. Volgens hom is hy 'n asielsoeker wat van Zimbabwe af Suid-Afrika toe gekom het.
Hy het verder getuig dat hy sy werkspermit by binnelandse sake in Maitland gekry het, by 'n karavaan langs die hoofgebou. Hy het gesê 'n wit man het hom gehelp en hulle was saam by die polisie om vorms te sertifiseer. Hy het R1 520 vir die permit betaal. Hy het nie geweet die permit is onwettig nie.
Govere het ook gesê as die hof sy borgtogaansoek toestaan sal hy nie vlug nie, omdat hy weet dit 'n groot saak is en hy sal by die verhoor teenwoordig wees.
Govere se prokureur, Vaughn Shone, het aangevoer dat daar geen rede is hoekom borgtog nie aan Govere toegestaan kan word nie. Hy het geen vorige veroordelings nie en die staat kon bevestig dat hy al vir vier jaar in die Strand 'n huis huur.
Landdros Lorraine Samuals het die saak tot Maandag 19 Mei uitgestel. Sy sal dan sê of die hof borgtog aan Govere sal toestaan, al dan nie.
LEES 'N VORIGE ARTIKEL

Tien mense waaronder 'n vyfjarige seuntjie is Donderdagoggend in die busongeluk op die George-pad dood. Foto: verskaf
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'