OUDTSHOORN NUUS - ‘n Vrag van 72 groot lusernbale is Saterdagoggend vroeg op ‘n plaas net buite Oudtshoorn afgelaai.
Die vrag voer is die 1000ste wat Burre Burger se Droogtehulp-projek in die uithoeke van die land afgelewer het.
Terwyl die wolke belowend saampak, het ‘n klompie boere van Volmoed en Armoed die vragmotor en sleepwa, hoog gelaai met puik kwaliteit lusernbale uit Hartswater, ingewag.
“Die voer sal aan 22 boere van Volmoed en Armoed uitgedeel word,” sê Ilse Louw, wat die aflewering van voer met Burger koördineer.
“Die boere sukkel om selfs die min diere wat hul oor het, te voer,” sê sy. “Daarom het ons besluit om die voer aan soveel as moontlik van hulle uit te deel – al kry elkeen net drie of vier bale, kan dit hul vee darem ‘n rukkie aan die gang hou. Dis nie baie nie, maar elkeen is dankbaar vir wat hy kan kry – as jy niks het nie, is dit baie.”
Omstreeks halfagt het Frik Swan die Iveco-vragmotor en sleepwa behendig by die hoofhek na die plaas ingeswaai. “Ons is gisteraand 18:00 uit Hartswater,” sê hy. “My vrou Crystal en ons seun Wimpie het saamgery.” Die vragmotor en sleepwa behoort aan Sam Streak Hartswater.
Die aflewering is gedoen in samewerking met Mosselbaai Nissan se Oudtshoorn-tak. “Ons het so ‘n jaar gelede by Burre se projek betrokke geraak,” sê Ronnie Colin van die plaaslike Nissan-tak. “Ons stel ‘n Nissan Nevara-bakkie en brandstof tot die projek se beskikking. Met die bakkie kan hulle na boere ry wat deur die droogte geknel word en voer gaan soek.”
Toe die toue en seile uiteindelik afgehaal en netjies opgevou is, het André Boltman en George Schneigansz, werknemers van Karroo Valley Farms, wat besigheid doen as Normandien, die bale twee-twee met vurkhysers opgetel en op Koos Grundlingh se vragmotor gelaai om na Volmoed/Armoed geneem te word.
“Dis ‘n wonderwerk dat mense landwyd steeds vir ons omgee,” sê Louis Grundlingh. “Mens raak maar moedeloos, maar hulp soos hierdie bring weer ‘n bietjie hoop.”
Gerrie Beneke, nog ‘n boer van Volmoed, het so gesê oor die voer én die belofte van reën: “Jissie, jy kan dit nie glo nie – as ons die jaar só begin met voer en reën, kan dit vanjaar net beter gaan!”
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'