Update
OUDTSHOORN NUUS - Nadat Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester tydens sy DA-verhoor hierdie week aangedui het dat hy as burgemeester en as lid van die DA gaan bedank, is aangedui dat hy nog tot op 30 Junie sy amp sou beklee.
Hy is egter gister (Donderdag 11 Junie) deur ‘n skrywe vanaf die DA ingelig om sy kantoor binne 24 uur te ontruim.
Volgens ‘n verklaring wat gistermiddag deur Elaenore Bouw-Spies, kiesfdelingshoof van Oudtshoorn uitgereik is, word ‘n raadslid se DA-lidmsaatskap onmiddellik ongeldig verklaar wanneer die persoon in die openbaar sy voorneme om te bedank bevestig. Op grond hiervan is die burgemeester gisteroggend om 08:50 amptelik in kennis gestel dat sy lidmaatskap beëindig is en dat hy 24 uur gegun word om sy kantoor te ontruim.
Volgens Bouw-Spies sal die federale uitvoerende raad ‘n aansoek om hertoelating tot die party oorweg indien so ‘n aansoek ontvang sou word.
Volgens haar het die voortslepende kwessie in die raad die afgelope twee jaar ‘n negatiewe uitwerking op Oudtshoorn gehad.
Sylvester het op sy beurt op sosiale media gesê sy bedanking is as gevolg van teenkanting wat hy gekry het in sy pogings om wanadministrasie en korrupsie van die munisipale bestuur bloot te lê.
Hy het verwys na ‘n verslag wat die regsfirma Webber en Wentzel opgestel het nadat hulle ‘n forensiese ondersoek waar by die munispale bestuurder, Allan Paulse, betrokke was, afgehandel het. Die ondersoek is deur die raad aangevra en is gedoen terwyl Paulse op verpligte betaalde verlof geplaas is. Sommige dele van die verslag is ook op sosiale media gedeel.
Die Oudtshoorn Courant het die munisipaliteit genader vir insae in die verslag en is meegedeel dat die verslag op 28 en 29 Mei voor die raad ter tafel gelê is. “Die proses is nog nie afgehandel nie en op hierdie stadium sal ons nie verder op hierdie kwessie reageer alvorens die raad op die pad vorentoe besluit het nie,” het die antwoord vanaf die munispale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe gelui.
Die koerant sal nou ‘n aansoek om toegang tot openbare inligting indien om te versoek dat die verslag in openbare belang bekendgemaak word.
Intussen wag die DA nominasies in vir geskikte kandidate vir die amp as burgemeester.
VORIGE ARTIKEL: BURGEMEESTER BEDANK
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'