OUDTSHOORN NUUS - Die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, het Dinsdag uit sy amp sowel as lid van die DA bedank. Dit volg nadat die uitslag van klagtes wat deur die DA teen hom aanhangig gemaak is, afgehandel is.
Die klagtes is reeds verlede jaar gelê, maar die proses is telkens uitgestel.
Een van die grootste kwessies was 'n vertrouensbreuk wat tussen Sylvester en die munisipale bestuurder, Allan Paulse, ontstaan het en reeds vir bykans twee jaar voortsleep. Paulse is etlike maande gelede met volle salaris op verlof geplaas terwyl klagtes wat Sylvester op sy beurt teen Paulse gelê het, ondersoek is.
In twee verklarings wat gister deur die DA se kiesafdelingshoof en LP, Eleanore Bouw-Spies en die DA se streekvoorsitter, Jaco Londt, uitgereik is, voer hulle aan dat Sylvester bedank het nadat hy op die aanklagte teen hom skuldig bevind is en besluit het om eerder te bedank voordat die DA stappe teen hom neem.
Alhoewel Sylvester nie op die koerant se oproepe gereageer het nie, het hy op 'n Facebook-blad gesê hy het bedank omdat hy homself nie met korrupsie kan vereenselwig nie.
Hy het ook verwys na die uitslag van die ondersoek wat die regsfirma Webber Wentzel onderneem het en wat volgens hom sy redes vir bedanking ondersteun. Die ondersoek is deur die raad goedgekeur en volgens 'n bron het die koste daaraan meer as 'n miljoenrand beloop.
Die uitslag van die verslag sowel as die koste daarvan is deur die Oudtshoorn Courant by die munisipaliteit aangevra. Gerugte dat sommige DA-raadslede die burgemeester se voorbeeld gaan volg, kon nie bevestig word nie.
VERWANTE ARTIKEL: DA BEVESTIG BURGEMEESTER SE BEDANKING
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'