OUDTSHOORN NUUS - Bouwerk aan die Bridgton-winkelsentrum vorder fluks en behoort teen volgende jaar Maart heeltemal voltooi te wees.
So sê die ontwikkelaar, Rutger Boshoff, wat in Junie vanjaar met sy toegewyde span skouer aan die wiel gesit het om dié gebou 'n realiteit te maak.
"Ons is heeltemal bewus daarvan dat die gemeenskap verwag het dat ons reeds in Desember klaar sou wees, maar ongelukkig het onvoorsiene vertragings ingekruip."
"Hoe dit ook al sy, bouwerk is sowat 80 persent voltooi en oor twee maande, sal die winkelsentrum operasioneel wees. Wat die winkels self betref, is ek baie opgewonde oor die vooruitsigte van 'n gewilde kitskoswinkel alhoewel onderhandelinge nog nie gefinaliseer is nie. So tesame met Shoprite en drie kitsbanke, sal Pep Stores ook heel moontlik met die tweede fase inkoop. Daar sal ook heelwat kleiner winkels langs die kant van die gebou wees om almal te akkommodeer. Sodra die huidige winkelsentrum klaar gebou is en mense solank inkopies doen, behoort ons dadelik met fase-2 weg te spring. Ek kan egter nog nie spesifieke tye deurgee nie," sê Boshoff.
Sekuriteit, parkering en werksoekers
Boshoff sê verder dat voornemende besoekers by die winkelsentrum verseker kan wees van 'n magdom ligte, kameras en sensors om topklassekuriteit te verskaf. Behalwe vir genoegsame parkering vir klante sal die agterste area van die winkelsentrum 'n laaisone wees waar vragmotors sal draai en weer by die voorste hek uitkom.
Werksoekers by Shoprite kan hul CV's by die tak in die dorp ingee.
Ambagsmanne, bouers en Oudtshoorn-munisipaliteit
Volgens Boshoff het hy baie lekker saam met die plaaslike bouers gewerk en wil hy graag krediet gee waar dit toekom:
"Die werk wat gedoen is, is van hoë gehalte en ons het geen probleme ondervind nie. Van die jonger manne het ons soms roteer om almal 'n beurt te gee, maar die res was langer. Op 'n stadium kan ek onthou dat ek amper 40 werkers op die perseel gehad het. Tans het ons 14 manne wat besig is met die verfwerk en dan begin die teëlwerk ook hierdie week.
"Ook die Oudtshoorn-munisipaliteit het ons fantasties bygestaan by die water en riool-aspekte van die gebou en hulle was absoluut professioneel. In kort was dit heerlik om tot dusver in Oudtshoorn te werk."
Boshoff se betrokkenheid by gemeenskapsport in Oudtshoorn
Die grond waarop die Bridgton-sentrum gebou is, was vir donkiejare vir gemeenskapsport gebruik - oorwegend vlakkiekrieket, en in hierdie verband het Boshoff in sy persoonlike kapasiteit die skraap en sloop vir 'n addisionele speelveld vir vlakkiekrieket by Aurial-Kollege, teen 'n astronomiese koste gefinansier. Boshoff was ook een van die borge tydens die gewilde Big Honderdbal-vlakkiekrieketreeks wat verlede week beslis is.
Rutger Boshoff (voor) en regs is die voorman, Kevin Peterson besig om die fondament in Junie vanjaar te lê.
Bouwerk aan die Bridgton-winkelsentrum vorder fluks en behoort teen volgende jaar Maart heeltemal voltooi te wees.
Een van die werkers druk besig binne die winkelsentrum. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'