OUDTSHOORN NUUS - Bridgton Senior Sekondere skool spog vanjaar met 'n algehele matriek slaagpersentasie van 83% in vergelyking met verlede jaar se 70% wat hulle behaal het.
Volgens die skoolhoof, Kelvin Ellis, kan die opwaartse kurwe van 14% toegeskryf word aan die spesiaale programme, intervensie en strategiese beplanning wat die skool vanjaar aangebied het vir leerders wat deur die jaar gesukkel het met probleemvakke soos Geografie, Ekonomie Besigheidstudies en CAT (rekenaartegnologie).
Van die 218 leerders wat die finale eksamem afgelê het kon 69 leerders daarin slaag om met universiteitsvrystelling te slaag.
Die skool het ook vanjaar twee A-gemiddelde kandidate in Zoë Roodtman (80,5), en Amber Witbooi (80,1) opgelewer. Ellis het gesê dat die skool baie trots is op dié twee se prestasie. " As blyk van waardering vir hul harde werk en opofferinge gedurende die jaar het die skool besluit om vir Zoë en Amber elkeen ‘n kontantbedrag van R2 000.00 te gee wat hulle volgende week sal ontvang.”
Zoë beoog om volgende jaar Chemiese Ingeneurswese aan die Universiteit van Kaapstad te studeer, terwyl Amber planne het om haar LLB graad aan die Universiteit van Wes-Kaapland te voltooi.
Bridgton Senior Sekondere skool se leerders is in ekstase nadat hulle hul uitslae ontvang het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'