Update
OUDTSHOORN NUUS - Dolly Subramoney (54) van George, wat op 9 Augustus ernstige brandwonde by Ou Tol Cango Retreat buite Oudtshoorn opgedoen het, is gisteraand in die George-hospitaal oorlede.
Die Oudtshoorn Courant het op 13 Augustus oor die brand berig.
Subramoney en twee vriendinne, René Mouton en Delene Pillay het die naweek van 9 Augustus by Ou Tol deurgebring.
Volgens Pillay het hulle ná middernag gaan slaap. Sy sê sy het in die vroeë oggendure wakker geword en besef die stoepgedeelte van die houthuis brand. Sy het Subramoney wakker gemaak en hulle het toe vir Mouton ook wakker gemaak. Een van hulle het die deur na die dek oopgemaak, maar dit het veroorsaak dat die vlamme die kamer oorweldig het.
Pillay het die venster in die slaapkamer oopgebreek en daardeur ontsnap. Sy het die ander twee deur die venster gehelp. Subramoney was laaste en het ernstige brandwonde opgedoen.
Subramoney se seun, Delaney, het kort na die brand gesê sy ma het ‘n operasie ondergaan en dat haar toestand ernstig was. Sy het 40% brandwonde opgedoen en was in die waakeenheid van die hospitaal.
Sy was ‘n steunpilaar in die Lions-vereniging en huldeblyke het sedert gister op Facebook ingestroom.
Drie houthuise het afgebrand. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'