Gallery Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - 'n Wegbreeknaweek na die Ou Tol Cango Retreat buite Oudtshoorn het vir drie vroue van George in 'n nagmerrie ontaard toe hulle ter nouernood uit 'n brand ontsnap het.
Die brand het Sondagoggend omstreeks 02:00 die houthuis waarin hulle oornag het, tot op die grond afgebrand. Die motor waarmee hulle gereis het, het ook uitgebrand en twee aangrensende houthuise is ook heeltemal afgebrand.
Een van die vroue, Dolly Subramoney (54), 'n voormalige lid van die polisie, is tans in die hoësorgeenheid van die George-hospitaal waar sy vir 40% brandwonde behandel word.
Haar seun, Delaney Subramoney-Cloete het aan George Herald-joernalis, Kristy Kolberg, gesê sy ma het Dinsdag 'n operasie ondergaan en ondergaan vandag 'n opvolgoperasie.
Subramoney en twee vriendinne, René Mouton en Delene Pillay het die naweek by Ou Tol deurgebring. Volgens Pillay het hulle ná middernag gaan slaap. Sy en Subramoney het 'n kamer gedeel en Mouton het op 'n slaapbank in die sitkamer geslaap.
Sy sê sy het in die vroeë oggendure wakker geword en besef die stoepgedeelte brand. Sy het Subramoney wakker gemaak en hulle het toe vir Mouton ook wakker gemaak. Een van hulle het die deur na die dek oopgemaak, maar dit het veroorsaak dat die vlamme die kamer oorweldig het.
Pillay het die venster in die slaapkamer oopgebreek en daardeur ontsnap. Sy het die ander twee deur die venster gehelp. Subramoney was laaste en het ernstige brandwonde opgedoen.
Kyk 'n video hieronder:
Die bestuurder van die oord het Dinsdag gesê hulle wag nog op 'n assessor om die skade te bepaal. Sy sê hulle is dankbaar dat die gaste in die ander twee houthuise wat afgebrand het, niks oorgekom het nie. Volgens haar het sy wakker geword van haar honde se geblaf. "Toe ek buite kom was die brand reeds buite beheer en 'n sterk wind het die vlamme aangejaag. My enigste gedagte was om almal veilig te kry," het sy gesê.
Fotogalery: Chalet fire at Cango Resort
Die brandweer en ambulanse is ontbied en die drie vroue is na die Oudtshoorn-hospitaal geneem en is later na die George-hospitaal oorgeplaas. Pillay en Mouton is vir snye en ligte brandwonde behandel. Die brand is vir die eienaars 'n verdere terugslag nadat die oord vir bykans vier maande gesluit was en die afgelope naweek vir die eerste keer gaste ontvang het.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, word geen gemene spel vermoed nie en word geen saak ondersoek nie.
Die uitgebrande voertuig op die terrein waar drie houthuise afgebrand het. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'