DYSSELSDORP NUUS - Die hof in Oudtshoorn het Woensdag gehoor dat die gesegde "brandewyn het nie brieke nie", nie 'n wolhaarstorie is nie.
'n Man van Dysselsdorp wat aan dronkbestuur en bestuur sonder 'n rybewys skuldig bevind is, het in sy pleitverduideliking erken dat hy op 16 Augustus 2021 bier en brandewyn gedrink het.
Toe hy in Dysselsweg deur die polisie afgetrek is, kon hy nie betyds stop nie en het met die vangwa gebots.
Volgens Daniel Soman (33) het hy besluit om met die geel Kadett huis toe te ry. Sy neef wat moes bestuur, het glo geslaap by die huis waar hulle gekuier het.
Soman het skuldig gepleit op albei aanklagte.
Sy regshulpprokureur, Wynand Malan, het die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra omdat hy 'n eerste oortreder is en nie die hof se tyd gemors het nie.
Die staatsaanklaer, Leandré Rhodes, dat toegegee dat Soman oop kaarte met die hof gespeel het, maar nogtans swaar gestraf moet word.
"Mense verloor hul lewens in ongelukke wat deur dronk bestuurders veroorsaak word en die gemeenskap is siek en sat daarvoor," het Rhodes gesê.
Landdros Vaughn Shone het met vonnisoplegging gesê hy het Soman se persoonlike omstandighede vir vonnis in aanmerking geneem.
Soman is op aanklag van dronkbestuur gevonnis tot R5 000 of 12 maande gevangenisstraf waarvan R3 000 of ses maande voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Hy kan reëlings tref om die balans van R2 000 in paaiemente te betaal indien hy nie oor die volle bedrag beskik nie.
Op die aanklag van bestuur sonder 'n geldige rybewys is hy 'n opgeskorte vonnis van R700 of 30 dae gevangenisstraf opgelê, terwyl die hof gelas het dat hy nie binne die volgende ses maande om 'n rybewys aansoek mag doen nie.
'Ons bring jou die nuutste Dysselsdorp, Klein Karoo nuus'