KLEIN KAROO NUUS - Die brand wat verlede Woensdag by Herold ontstaan het en die afgelope paar dae paniek in George gesaai het, het ook noordwaarts versprei na plase in die Langkloof, wat Louvain, Schoongesig en Ganzekraal aan die noordekant van die Outeniquaberge insluit.
“Die sterk wind het die brand Maandag oor die berg gedruk,” se Nico Bester van Louvain. “Ons het ons werkershuise ontruim en sowat 10 gesinne word nou in die gastelokaal op die plaas gehuisves.”
Die stormsterk wind het die vuur heeldag aangeblaas sodat Bester sy woonhuis ook Maandagmiddag ontruim het. “Die kinders kon nie skool toe gaan nie, want ons kon nie by George uitkom nie.”
Volgens Karen Thomlinson van Schoonberg het die wind die brand Maandagnag tot teen die plaashuis gedruk. “Die wind het die vonke deur die lug geskiet – ek het sé gedink aan die mense van Knysna wat in Februarie verlede jaar die angs beleef het.”
Volgens Thomlinson het hul eie brandspanne, brandweerpersoneel, asook talle vrywilligers wat die brand van die pad af gesien het, gehelp om die vuur onder beheer te probeer bring.
“In ‘n stadium Maandag het die brandweer onttrek om anderkant die berg te gaan help waar die brand George se woonbuurte bedreig het, maar so teen twee-uur, halfdrie het CapeNature se brandspanne in verskeie bakkies hier opgedaag om te kom help.
“Deur die Here se genade het ons geen mense, diere of strukture verloor nie,” sê sy. “Die wind waai nou in ‘n suidwestelike rigting weg van die geboue af, maar dit wind kan enige oomblik draai.”
Volgens Pieter Campher van Ganzekraal brand die bergveld steeds, maar die vuur is teen ‘n pad onder beheer gebring. “Ons het gister ons werkershuise ontruim en wag net dat die wind, wat nou wes waai, draai sodat ons ‘n brandpad kan maak om die werkershuise te beskerm.”
Kyk 'n video hieronder
Die brand vanoggend vanaf Louvain afgeneem.
Die brand vanoggend vanaf Louvain afgeneem.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'