BRIDGTON NUUS – Al wat van vier wonings oorgebly het na ‘n verwoestende brand wat by Roseweg 1049, Bridgton, uitgebreek het, is twee beddens en ‘n stoel.
Altesaam 22 mense het alles in die brand verloor.
Selwin Lewis, en sy twee kinders het in een van die drie opslaanhuise wat teenaan die baksteenhuis gebou is, gebly. Lewis se seun het gisteraand 8 Oktober omstreeks 21:00 begin skree: “Tannie Sanet dit brand, dit brand!"
Sanet Stuurman, wat al teen hierdie tyd geslaap het, het van die geskree wakker geword en dadelik opgemerk dat die baksteenhuis waarin sy en 11 ander mense slaap, heeltemal oortrek is van die rook.
“Ek het net gedink, Here help my om almal veilig uit die huis te kry.
Die slaapkamer waarin my suster geslaap het se gordyne was al aan die brand. Ons het ook probeer om die vlamme met water dood te gooi maar dit was ‘n verlore stryd. Gelukkig het daar niemand seergekry of hulle lewe verloor nie,” vertel sy.
Teen die tyd wat Stuurman almal uit die huis gekry het, het die vlamme meeste van die drie opslaanhuise verswelg. Sy vetel verder dat hulle almal gisteraand buite op die gras geslaap het omdat hulle geen ander heenkome het nie.
Die Oudtshoorn-brandweer was vinnig op die toneel en het hulle bes gedoen om die vlamme te beveg.
“Ons wil net vir hulle dankie sê. Die vlamme was so warm ons kon glad nie meer naby aan die wonings kom nie,” vertel Lewis.
Die oorsaak van die brand is onbekend maar Stuurman vertel dat die krag kort-kort afgeslaan het.
“Ons het maar net elke keer die skakelaar by die kragboks opgedruk, ons het nie gedink daar is fout nie.”
Miena Fortuin, ‘n buurvrou van die inwoners, het haarself oor die vier gesinne ontferm en vandag ‘n middagete vir hulle gemaak.
“Indien daar enige hulp is wat iemand wil aanbied kan hulle my kontak. Die gesinne het alles verloor.”
Miena Fortuin kan by 063 753 7163 gekontak word.
Die puinhoop waar Girschwille Stuurman en sy twee broers se opslaanhuise eens gestaan het.
Die kombuis van Sanet Stuurman, totaal vernietig. Die kragboks het ook in die vlamme gesmelt.
Foto's: Sonia Wahl
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'