OUDTSHOORN NUUS - Die brandweer het verlede Donderdagmiddag gespook om 'n brand wat 'n gasteplaas buite Oudtshoorn bedreig het, onder beheer te kry. Volgens Anton Roetz, eienaar van Shadowlands, het die brand Donderdagmiddag omstreeks 15:00 vanaf 'n buurplaas na sy grond versprei.
"Toe ons besef die brand is langs die rivier op ons grond was die brandweer alreeds daar om te keer dat die brand na die huis toe versprei."
Hy sê die brand het baie vinnig deur die riete langs die rivier versprei en toe het die droë plante op die landerye ook begin brand. Op 'n stadium was die brand slegs sowat 30 meter van die huis af.
"Ons was bekommerd, want ons het drie groepe gaste uit die buiteland verwag wat die aand by ons moes oornag," het hy gesê. Volgens hom het die brandbestryders egter 'n voorbrand tussen die vuur en die huis gemaak waarteen die brand homself uitgewoed het. "Die manne het met die toerusting tot hulle beskikking, 'n puik werk gedoen.
Hulle het eers onttrek nadat hulle doodseker was die huis is veilig en die gaste is nie in gevaar nie."
Alhoewel geen strukture beskadig is nie het 'n groot gedeelte van die plaas se elektriese heining, waterpype en 'n waterpomp in die slag gebly. Die oorsaak van die brand is tot dusver onbekend.
Vlamme wat riete langs die rivier verteer verdwerg brandbesryders in die voorgrond. Foto's: Anton Roetz
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'