Update
DYSSELSDORP NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het vandag gesê dis krities belangrik dat inwoners van Dysselsdorp water spaarsaam gebruik. Hierdie versoek om die minimum water te gebruik kom nadat een van die transformators by die watersuiweringsaanleg uitgebrand het.
Volgens die munisipaliteit het Eskom flink gereageer om die probleem aan te spreek - ‘n mini-substasie is alreeds ontvang om die beskadigde transformator te vervang.
Die installering behoort vanaand teen 21:00 voltooi te wees.
Daar is ongelukkig ‘n kinkel in die kabel: beurtkrag is na fase 4 verhoog. Dit beteken dat die pompe wat die suiweringsaanleg voer eers na middernag sal begin pomp en dan weer om 04:00 sal afskakel. Die totale tydperk wat die pompe sal loop is vier ure - hopeloos te min tyd om die reservoir te vul.
Die pompe sal ook môre, as gevolg van beurtkrag, net agt ure kan pomp. Weereens te min tyd om die vraag na water in Dysselsdorp te akkommodeer.
Die munisipaliteit hou inwoners op hoogte en sal watertenke verskaf as voorsorgmaatreël.
Vorige artikel: 500 KVA-transformator slaan aan die brand
'Ons bring jou die nuuste Dysseldorp, Klein Karoo nuus'