Update
OUDTSHOORN NUUS - Die jong man wat vanoggend in 'n botsing naby Surval uit sy voertuig geslinger is, het kneusplekke en oop wonde aan sy kop opgedoen.
Fernando van Staden se pa, Frikkie, het vanmiddag laat weet dat x-strale geen frakture of ernstige beserings by Fernando aangedui het nie.
"Die dokter sê hy het kwaai kneusplekke opgedoen en die oop wonde is nie te ernstig nie, maar hy ly nog aan skok."
Fernando en sy broer Melvin was in twee bakkies na Matjiesrivier onderweg om hooibale te haal toe 'n motor met 'n Duitse gesin aan die verkeerde kant van die pad van voor gekom het.
Melvin kon daarin slaag om die voertuig te vermy, maar Fernando kon nie uit die pad kom nie en sy bakkie is deur die aankomende voertuig getref. Hy is met die slag uitgeslinger.
Die Duitse paartjie en hulle seun van ongeveer drie jaar is nie beseer nie.
Lees 'n vorige artikel: Toeriste aan verkeerde kant van pad
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'