OUDTSHOORN NUUS - Met botsings word skade van honderde duisende rand aangerig en dikwels is partye nie verseker nie.
Dit het geweldige implikasies vir die slagoffers.
'n Onlangse botsing in Oudtshoorn, waar 'n voertuig oor 'n rooi lig gery het en 'n aankomende Toyota Hilux getref het, is maar een so 'n voorbeeld.
Volgens inligting wat aan die eienaar van die Toyota gegee is, het die eienaar van die Polo wat in hom vasgery het, geen versekering op haar voertuig nie en al sou sy gehad het blyk dit dat die persoon wat die voertuig bestuur het, nie 'n rybewys het nie.
Volgens die eienaar van die Toyota beloop die skade aan sy bakkie bykans R280 000 en die versekeringsmaatskappy het laat weet dat die bakkie afgeskryf gaan word.
"Die skade aan die bakkie is baie hoër as die waarde van die bakkie, maar dit is 'n voertuig wat in puik kondisie is en om hom te vervang met 'n soortgelyke een gaan my bykans R300 000 kos, as ek 'n tweedehandse een in die hande kan kry," sê die eienaar.
Dit beteken ook verder dat hy bykans R150 000 uit sy eie sak moet betaal, aangesien die versekering net die huidige boekwaarde van sy bakkie sal betaal.
Die ander voertuig is ook afgeskryf en daardie eienaar is nou glo 'n bedrag van vêr oor die R100 000 aan die bank verskuldig aangesien die versekering glo op 'n stadium gestaak is.
Versekering op voertuie het ook ter sprake gekom toe honderde mense die afgelope naweek teenstrydig met verkeerstekens, die Swartbergpas besoek het.
"Wat mense nie besef nie, is dat hulle versekering dalk nie 'n sent sal uitbetaal as hulle voertuig skade ly op 'n pad wat volgens verkeersregulasies gesluit is nie," het iemand wat betrokke was by die herwinning van voertuie op die pas, hierdie week gesê.
Oudtshoorn Courant het die afgelope week met 'n aantal mense gesels wat skade aan voertuie gely het as gevolg van ander bestuurders se onverskilligheid.
In talle gevalle is die voertuig wat beskadig is die persoon se enigste vervoermiddel en dikwels is die voertuig te oud om duur versekering te regverdig.
'n Senior verkeersbeampte het by 'n vorige toneel gesê hy dink nie mense neem die finansiële implikasies in ag as hulle verkeersreëls verontagsaam nie. Behalwe vir die skade aan voertuie is daar ook ander kostes wat verhaal moet word. Daar is byvoorbeeld kostes soos die insleepdiens, ambulansvervoer, reddingswerkers wat op die toneel is, mediese behandeling, inkomste wat verbeur word terwyl 'n persoon herstel en talle ander verskuilde kostes.
"Mense dink eenvoudig net nie voordat hulle onverskillig raak en reëls verontagsaam nie," sê die beampte.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'