OUDTSHOORN NUUS - Borgtog moet geweier word omdat die beskuldigde nie borgtogvoorwaardes nakom nie. So sê Jacolize Jordaan, aanklaer in die saak teen die burgemeesterskomiteelid van die Oudtshoorn-munisipaliteit wat van seksuele aanranding aangekla word.
Sy borgtogaansoek is verlede Woensdag na die slotbetoë van die staat en die verdediging deur landdros Stephanie Strydom vir uitspraak tot môre, 1 November, uitgestel.
Die 40-jarige raadslid, word daarvan aangekla dat hy glo op 27 September vanjaar ‘n 37-jarige vroulike werknemer van die munisipaliteit in sy kantoor betas het nadat hy glo die deur gesluit en haar ‘n beter pos aangebied het.
Jordaan versoek die hof om nie borgtog toe te staan nie omdat die applikant nie borgtogvoorwaardes in ‘n verkragtingsaak wat op 4 Oktober van die hofrol verwyder is, nagekom het nie, en die misdaad waarvoor hy nou in die hof is, glo gepleeg het terwyl hy nog op borgtog was.
Die staat voer ook aan dat die applikant ‘n geneigdheid toon om seksuele misdrywe te pleeg en staatsgetuies sal probeer beïnvloed. Hy is in 2013 ook skuldig bevind aan seksuele aanranding van ‘n onbekende vrou.
Volgens die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Jurgen Loff van Liezel Scholtz Prokureurs, is hy nie ‘n vlugrisiko nie. Hy het nog niemand gedreig nie en bewys dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hom toegestaan word.
Die ondersoekbeampte ao. Wanita Uys, wat ook borgtog teenstaan, het getuig dat die beskuldigde nie sy samewerking gegee het toe hy gesoek is nadat die klagte teen hom gelê is nie.
Die vrou het onmiddellik nadat sy daarin geslaag het om uit die beskuldigde se kantoor te kom, ‘n vrou buite die burgersentrum wat die voorval vertel en ‘n saak gaan maak. In haar haas om uit die kantoor te kom het sy haar handsak daar vergeet.
Die beskuldigde het volgens Uys nie soos belowe na die polisiestasie gekom nie en na sy arrestasie drie dae later, gesê dat dit nie sy werk is om na haar te gaan, maar haar werk om na hom te soek.
Hy is uiteindelik in die woning in Dassieweg gearresteer waar hy volgens sy borgtogvoorwaardes in die verkragtingsaak nie moes kom nie.
Volgens Uys is die klaer ook bang vir die beskuldigde en moet sy gedurig op straat oor haar skouer loer omdat sy nie weet wanneer die beskuldigde iemand sou stuur om haar seer te maak nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'