OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan drie mans wat tereg staan op aanklagte van moord met 'n gesamentlike doel.
Kelvin Botha (29) van Neppon, Niel Daniels (27) van Rose Valley en Henry Smith (26) van Rosebank word van die moord op Niel Fredericks (25) aangekla.
Fredericks is op 21 April vanjaar in Bonteboklaan (Bridgton), met ‘n skerp voorwerp doodgesteek, waarna die drie beskuldigdes weggehardloop het en die moordwapen in Volstruislaan weggegooi het.
Die moordwapen is later deur die Oudtshoorn-polisie herwin.
Die ondersoekbeampte, ao. Piet Hendricks, het getuig dat Botha volgens ooggetuies die oorledene met sy knie op die grond vasgedruk terwyl Smith hom vasgehou en Daniels hom gesteek het.
Die regsverteenwoordigers, Wynand Malan (vir Botha en Smith ) en adv. Shaun Ferreira (vir Daniels), het die hof vir borgtog gevra omdat die beskuldigdes nie 'n vlugrisiko is nie en dat daar geen bewyse voor die hof is dat hulle die staatsgetuies sal probeer beïnvloed nie.
Botha het 23 vorige veroordelings waarvan 15 vir geweldadigheid is. Hy is ook al by ‘n vorige geleentheid onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Daniels staan ook tans tereg op ‘n aanklagte van aanranding om ernstig te beseer. Smith is op waarskuwing uit op ‘n klagte van poging tot moord.
Die staadsaanklaer, Zelda Jass, het die hof versoek om borgtog aan die beskuldigdes te weier.
Landdros Vaughn Shone het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan hulle toe te staan nie, en dat hy vrees vir die veiligheid van die ooggetuies van wie een glo reeds deur Botha met die dood gedreig is.
Daar word ook gevrees dat die minimum vonnis vir moord die beskuldigdes kan aanspoor om nie vir hulle hofverskynings op te daag nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 29 Junie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'