OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is voorverlede week in die Oudtshoorn-landdroshof aan 'n jong ma van Rose Valley, wat weer op aanklagte van diefstal en huisbraak in die hof verskyn het, geweier.
Jody da Silva (19) wat erken het dat sy aan tik verslaaf is, word daarvan aangekla dat sy 'n vrou se klere van haar wasgoedlyn gesteel en ook by 'n huis ingebreek en 'n skootrekenaar probeer steel het.
Sy is in albei gevalle deur die klaers op heterdaad betrap. Sy het die hof om borgtog versoek omdat sy by haar kind wil wees en sal poog om die dwelms te los. Sy is werkloos en het erken dat sy nog nie 'n werk gesoek het nie.
Sers. Sheroné Flemmer, verbonde aan die Oudtshoorn-speurdiens, het borgtog teengestaan omdat Da Silva haar nie steur aan borgtogvoorwaardes nie en altyd soek is al het sy 'n vaste woonadres.
Sy het ook drie hangende sake teen haar.
Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan, het aan die hof gesê Da Silva is 'n gevaar vir die gemeenskap en daarom in aanhouding moet bly. Sy is in 2020 'n opgeskorte vonnis vir diefstal opgelê, maar haar nie aan die voorwaardes gesteur nie. Sy is voorheen ook na 'n rehabilitasiesentrum verwys, maar het nooit gegaan nie.
Da Silva se regshulpprokureur, Wynand Malan, het die hof vir borgtog gevra omdat geen getuienis voor die hof gebring is dat sy 'n vlugrisiko is of met staatsgetuies sal inmeng nie.
Landdros Vaughn Shone het egter bevind dat dit nie in belang van geregtigheid sal wees om borgtog aan haar toe te staan nie en die saak vir verdere ondersoek en verhoor uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'