BEAUFORT-WES NUUS - Borgtog is verlede Donderdag in die streekhof in Oudtshoorn aan 'n man van Beaufort-Wes geweier.
Die man staan tereg op aanklagte van huisbraak en diefstal omdat hy by twee vorige geleenthede nie sy borgtog- en paroolvoorwaardes nagekom het nie.
Die ondersoekbeampte, sers. Chris Okkers, het getuig dat Randall Britz, baie bekend is in Beaufort-Wes en klaers in sake teen hom gewoonlik die sake terugtrek omdat hulle Britz vrees.
"Die gemeenskap van Beaufort-Wes soek hom glo nie buite die tronk nie, en daarom word borgtog teengestaan," het Okkers getuig. Hy het by geleentheid ook nie sy paroolvoorwaardes nagekom nie. Sy getuienis dat hy vir 'n inkomste hout maak en verkoop asook fietse herstel is deur die ondersoekbeampte ontken.
Volgens hom het hy nog nooit hout of fietse by Britz se huis gesien nie. Britz praat ook nie die waarheid as hy sê dat hy nie die ondersoekbeampte in die hande kon kry nadat hy glo sy hofdatum vergeet het nie.
Volgens die ondersoekbeampte is Britz moeilik opspoorbaar en moes hy lede van die honde-eenheid vra om hom vir die saak in die hande te kry omdat almal in Beaufort-Wes sy pers dubbelkajuitbakkie ken.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het ook borgtog teengestaan in die lig van Britz se geneigdheid om misdaad te pleeg en die klaer wat in vrees vir hom leef. Hy het glo reeds ander mense gestuur om van die gesteelde items aan haar terug te besorg en gevra om die saak terug te trek.
Streeklanddros Daniel Boks het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid sal wees om die beskuldigde vry te laat nie.
Hy het by twee geleenthede versuim om hof by te woon en die vrees bestaan dat hy die klaer sal intimideer en nie enige borgtogvoorwaardes sal nakom nie.
Die saak is vir verhoor in die streekhof in Beaufort-Wes tot 2 Februarie 2022 uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Beaufort-Wes, Karoo nuus'