OUDTSHOORN NUUS - "Jy kan nie net 'n plantjie in die grond druk en dit los nie, jy moet dit elke dag versorg en gereeld water gee," so gesels Marguerite en Lukas Boje.
Oorspronklik van Graaff-Reinet en inwoners daar vir 40 jaar, het die Boje's hulself vyf maande gelede in Oudtshoorn kom vestig. In dié tyd het hulle die tuin in 'n kleurryke lushof verander.
"Ek loop nie by die voordeur uit sonder 'n snoeiskêr nie. Daar is altyd 'n dooie blommetjie, takkie of blaar wat afgeknip moet word," vertel Marguerite.
Lukas vertel dat hy 'n groot deel van dié plante uit hul vorige tuin in Graaff-Reinet saamgebring het.
"Ons het bakkie vragte kraalmis hier ingery," vertel hy en voeg by dat dit is waarom die plantjies so mooi groei.
Die Boje's is uitsonderlike tuiniers en gee die volgende raad:
- Marguerite werk 3 tot 4 ure per dag in haar tuin.
- Die grond moet goed voorberei word met kraalmis en plantvoeding.
- Gebruik bad-, wasgoed- en reënwater om jou tuin nat te dra, dit spaar jou munisipale waterrekening.
- Plant jou plantjies sodat hulle nie spasies ooplos wanneer volgroeid is nie, dit help dat die grond vir langer klam bly.
- Marguerite vertel dat sy elke dag met haar plantjies praat, "ek vertel vir hulle dat hulle mooi moet groei. Ek dank ook die Here vir elke plantjie se mooi blomme."
- Installeer 'n watertenk wat reënwater kan opvang.
Marguerite is dit eens dat 'n malva die beste groeier in die droë klimaat is. Sy het 'n groot verskeidenheid malvas en beplan om 'n groter verskeidenheid van die plant aan te skaf.
'n Welkome gesig wanneer jy by die tuinhekkie staan. Foto: Sonia Wahl
Die kleurryke tuin van die Boje's nadat dit toegegroei het. Foto: Marguerite Boje
Die fyntuin is 'n lushof vir die oog. Foto: Marguerite Boje.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'