OUDTSHOORN NUUS - Die Kangovalleie-boerevereniging het onlangs 'n skenking ter waarde van R4 000 aan die Matjiesrivier-crèche, gemaak.
Volgens Kobus Theron, bestuurslid van die boerevereniging, het 'n besoek aan die kleuterskool die behoefte aan veral tafeltjies en stoeltjies uitgelig. "Ons 2017-skenking was hoofsaaklik skopfietsies, saam met 'n klompie opvoedkundige hulpmiddels soos legkaarte en kryte. Vanjaar her ons vier tafels en 16 stoeltjies en nog 'n paar opvoedkundige hulpmiddels, en nog 'n paar skopfietsies aangekoop."
Aletta Barnard, hoof van die crèche, het die skenking ontvang. "Hierdie skenking het gesorg vir 'n vroeë Jeugdag, en ons sal die tafels en stoeltjies met vrug kan gebruik wanneer ons Jeugdagaktiwiteite doen."
Die skenking is gemaak uit geld wat verlede jaar tydens die Kango Agri Ekspo ingesamel is. Die 2018 Kango Agri Expo vind plaas op 18 Oktober by die Kamanatieloop Proefplaas. Uitstallers en belangstellendes kan Kobus Theron (koördineerder – 079 619 0124) of Chris Botha (voorsitter Kangovalleie-boerevereniging - 084 250 2483) kontak.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'