OUDTSHOORN NUUS - Kangovalleie Boerevereniging het gesorg vir 'n vroeë Kersfees by die Matjiesrivier-kleuterskool.
Die boerevereniging, wat in Mei vanjaar die eerste Kango Agri Expo op Schoemanshoek gehou het, het onlangs opvoedkundige speelgoed ter waarde van R4 000 aan Aletta Barnard, die hoof van die kleuterskool geskenk.
Nog 'n skenking ter waarde van R4 000 sal volgende jaar gemaak word.
"Vroeë kinderontwikkeling is vir ons baie belangrik, want dit is waar ons die grootste impak in 'n kind se lewe kan hê," sê Chis Botha, voorsitter van die boerevereniging.
"Dit is 'n tasbare manier waarop ons kan terugploeg in ons plaaswerkergemeenskap.
"Kinders bly ons kosbaarste besittings en daarom is dit 'n voorreg om by te dra tot hul ontwikkeling tot volwaardige landsburgers."
Barnard was opgewonde oor die vroeë Kerstyd-meevaller.
"Ons is veral bly oor die klompie legkaarte en die ander hulpmiddels wat my werk sal vergemaklik.
"Daar gaan ook gespeel word, want ek kan al sien hoe die kinders met die skopfietsies resies jaag!"
Die speelgoed is gekoop uit die opbrengs van die Expo.
Draadspan
Plaaswerkers wat tydens die Expo opleiding in draadspan ontvang het, het onlangs hul sertifikate ontvang.
Verteenwoordigers van die boerevereniging se bestuur het die sertifikate oorhandig aan plaaswerkers van Matjiesrivier en Schoemanshoek wat die draadspan-opleiding deurloop het.
John Schoeman, bestuurslid van die vereniging, sê dit is vir die boere belangrik dat plaaswerkers soveel moontlik gebruik maak van die geleenthede wat die boerevereniging skep.
"Ons hoofdoel met die aanbieding van die Expo was juis om die totale gemeenskap te bevoordeel, en nie slegs die boere nie."
ARTIKEL & FOTO: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'