Laura en Piet Schoeman van die plaas Buffelsdrift net buite Oudtshoorn het 'n huis wat vroeër deur 'n plaasbestuurder bewoon is op eie koste opgeknap en ingerig as 'n kleuterskool waar vier onderwyseresse daagliks in die behoeftes van kleuters voorsien.
Die Vreugdevoetjies kleuterskool het voor-verlede Sondag 'n Kersspel vir die ouers aangebied en sommer elkeen 'n geskenk van Kersvader ontvang. Die erf agter die kleuterskool was volgepak met ouers, vriende en selfs besoekers uit Duitsland, wat kom kyk het hoe die kleuters hulle goed geoefende passies uitvoer.
Laura vertel dat sy al vir jare die begeerte het om iets vir die gemeenskap te doen en baie graag 'n kleuterskool wou stig. "Toe ons plaasbestuurder na 'n ander huis toe trek het ek my kans gevat en die huis 'bespreek' vir die skooltjie."
Vreugdevoetjies het in Januarie met slegs 15 kinders oopgemaak en volgens Laura sal hulle volgende jaar meer as 60 akkommodeer. "Ek sou dit nooit kon doen sonder die hulp en bystand van Judy Kellerman nie. Sy het my gehelp om die skool te registreer en ook met ons registrasie as 'n nie-winsgewende organisasie en van dag een af het sy ingespring en alles ingesit," sê Laura terwyl sy wys waar Judy besig is om die kleuters te help voorberei.
Judy was ook verantwoordelik vir die stigting van die kleuterskool by Rose Valley en het al 'n groot rol gespeel in verskeie kleuterskole op plase in die omgewing.
Volgens Laura word Vreugdevoetjies se kostes, wat die salarisse van die vier onderwyseresse insluit, geheel en al deur haar en Piet se boer-dery gedek. "Ons glo dat mens nie net moet ontvang nie, maar ook moet gee." Sy sê dat besighede soms met skenkings bydra tot die etes wat die kleuters elke dag ontvang.
(Met verskeie besoeke aan verskillende kleuterskole in ons omgewing is dit duidelik dat die bydraes van die gemeenskap en besighede 'n groot rol in die ontstaan en bestaan van kleuterskole speel. Persone of instansies wat by Vreugdevoetjies wil betrokke raak kan Laura by 083 259 1288 skakel. Redakteur)
Judy Kellerman (voor) en een van Vreugdevoetjies se personeellede kry die kleuters in posisie vir die vertoning waarvoor baie hard geoefen is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn | Klein-Karoo nuus'