OUDTSHOORN NUUS - Op die ouderdom van 13 vermag Dirk-Harold Mostert meer as wat enige suiwelboer kan - sy suiwelprodukte het hom reeds in 'n kranige sakeman laat ontpop, maar nog meer is hy 'n kampioen-suiwelproduseerder.
Dirk-Harold het onlangs by die SA Jeugskou in Clanwilliam die suiwelbereiding-afdeling gewen - 'n nasionale kompetisie waar deelnemers vanoor die land hul produkte kom voorstel vir beoordeling.
Hy maak oor die algemeen, met plaaslike produkte, onder meer jogurt, feta, haloumi, ricotta, roomkaas en botter - en dan is daar nog ander produkte waarmee hy eksperimenteer, vertel hy. Dit is vir hom 'n baie interessante bedryf.
Die jong kaasmaker het sy passie vir hierdie unieke bedryf reeds op sewejarige moontlik agtjarige ouderdom ontwikkel toe 'n suiwelmaatskappy na sy skool gekom het en kinders en ouers geleer het hoe om basiese roomkaas te maak.
"Vir twee dae het hulle ons geleer, ek en my pa was daar, hulle het ons geleer hoe om die kaas uit te hang. Van daar af het ek begin, toe gaan ek maar net aan. Die lekkerste was toe ek die eerste keer gaan skou het, want daar is 'n klomp kinders wat net saamspeel, toe raak dit half net te lekker om saam met hulle te speel en te skou en te gesels, toe besluit ek om daarmee aan te gaan," vertel hy.
Dirk-Harold vertel hy koop sy bestanddele sommer plaaslik, by 'n winkel, hetsy dit Clover of Parmalat of wat ook al mag wees. Selfs die biltong wat hy in sy gunsteling biltong-en-peper-kaas sit, word plaaslik gekoop.
Hy het in sy ouers, Haroldene en Hendrik, se kombuis begin met sy suiwelstreke en naderhand 'n besigheid met die naam Kleinbegin & Kie op die been gebring. Dit het so ver gegaan dat die huis se kombuis geregistreer is by die toepaslike gesondheidsowerhede, en hy sy produkte begin verkoop het. Tans is sy ouers besig om hul motorhuis te omskep in 'n behoorlike "fabriek" om Dirk-Harold se vooruitsigte te ondersteun.
By die onlangse skou, waar hy as kampioen aangewys is, moes Dirk-Harold voor die toeskouers en beoordelaars sy vernuf bewys.
"Die reëls was baie streng, jy mag nie eers na iemand kyk of met hulle praat nie. Jou ouers mag nie eers naby jou wees nie anders diskwalifiseer hulle jou. Dit was baie, baie, baie, streng," het hy gesê.
Volgens hom is daar vier mense wat rondstap en kyk dat daar nie invloed van buite is nie, insluitend twee beoordelaars.
Hierdie is die derde SA Jeugskou-kampioenskap wat Dirk-Harold wen met sy produkte sedert hy begin het om deel te neem. Gedurende Covid-19 kon geen skoue plaasvind nie.
Sport meng ook so klein bietjie in met sy suiwelproduksie. Die jong man is boonop 'n SA skopbokser, krieketspeler en musikant wat 'n reeks instrumente kan speel. Hy was in 2022 SA kampioenskopbokser.
Hy maak kaas, en hy skop gat.
Sy dryfkrag agter al sy prestasies is die liefde vir alles wat hy doen.
"By die jeugskou is alles net baie lekker, want almal is min of meer dieselfde ouderdom, en party kinders skou met diere en eiers en sulke goed. Dis interessant om by hulle te hoor wat hulle doen, want op skool skryf ons partykeer toets oor sulke goed. Partykeer ruil ons notas uit, ek dink nie my ma weet dit nie," skerts hy.
Vir sy toekoms beoog hy om sy eie besigheid te begin. "Ek dink dit gaan my baie help vir as ek selfs by enige ander soort werk probeer inkom. As ek rêrig wil kan ek selfs 'n skopboksklub begin."
Tussen suiwelprodukte maak en skopboks is dit 'n moeilike keuse vir Dirk-Harold.
"Skopboks is lekker as jy die dag kwaad is, maar die jeugskou en die maak van suiwelprodukte is goed vir jou as jy die dag net wil rustig wees. Gewoonlik, as ek my kaas moet laat staan, dan sit ek en kyk televisie of iets, dan help dit my om rustig te raak en net weer oor 'n paar goedjies deur te dink. Ek dink aan wat ek die volgende dag moet doen of my skoolwerk."
Sodra die motorhuis by hul woning op die dorp behoorlik ingerig is vir sy suiwelproduk-produksie sê Dirk-Harold gaan dinge baie vinniger verloop, en sal sy produkte vir die publiek te koop wees.
Sy ouers is natuurlik baie trots op "die mannetjie". Hulle vertel hy is baie besig met alles wat hy doen, hetsy dit kaasmaak, musiek of sport is. "Ons sien 'n groot toekoms vir hom, dit is juis hoekom ons die motorhuis omskep vir hom. Ons wil belê in sy toekoms."
Dirk-Harold met een van sy toekennings.
Foto's: verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’