OUDTSHOORN NUUS - Een van die grootste bekommernisse vir Suid-Afrikaners tydens die algehele inperking is kinders wat agterraak met skoolwerk.
Meeste onderwysers het voor die inperkings huiswerk aan leerders gegee wat by die huis gedoen kan word, maar met die verlenging is baie ouers en leerders bekommerd oor nuwe werk wat ingehaal moet word.
Meeste skole het egter reeds probeer om die bekommernisse vir die ouers te stil deur WhatsApp-groepe te stig en ander vorme van kommunikasie met ouers en leerders te begin.
'n Groot groep skole het op hul Facebook-blaaie reeds inligting gepubliseer oor hoe om huiswerk in die hande te kry. Die Oudtshoorn Courant het met 'n paar onderwysers gesels.
Laerskole
Sandie Thorne, onderhoof van Laerskool van Reede, sê vir hulle is dit nie nodig dat laerskoolleerders nuwe werk leer nie.
"Ons kinders het hul ouers nodig om hulle veilig te laat voel, om met hulle te praat oor alles wat op die nuus gehoor word, om vir hulle ‘n voorbeeld te wees van hoe “Bly by die Huis” lyk. Kinders hoor nou woorde wat vir hulle vreemd klink soos Covid, isolasie, ekonomie, lockdown, werk verloor en groot dodegetalle. Dit kan vreesaanjaend wees as hulle nie die woorde reg verstaan nie. Help hulle om dit te verstaan."
Die volgende ding wat ouers kan doen is om te help om die eerste kwartaal se werk te hersien.
"Hierdie is die tyd om lekker wiskunde speletjies te speel. Gebruik twee of selfs drie dobbelstene en gooi hulle op ‘n tafel. Tel die getalle saam, vat die hoogste getal en trek die tweede hoogste getal af. Trek blokkies buite met kryt of in die grond met ‘n stok. Skryf getalle in en laat hulle van een na die ander spring en die getal gee. Oefen tafels, nie net opsê nie, alhoewel dit belangrik is, maar help hulle om die verband tussen maal en deel te sien."
Thorne sê ouers moet onthou dat 'n kind iets leer uit dit wat hulle by die huis doen.
Volgens Asheigh Taljaard, 'n gr. 2-onderwyser van Laerskool van Reede, het sy haar eie YouTube-kanaal begin waar sy vir haar leerders klas aanbied en ook om ouers te help kinders prakties te leer.
Gaan kyk gerus na haar kanaal hier.
'n Skermgreep van een van Ashleigh Taljaard se video's waar sy besig is om klanke te verduidelik.
Sy sê lees is vir haar die belangrikste vir 'n kind van enige ouderdom, omdat dit met enige vak kan help.
"Lees vir hulle, enigiets, 'n boek, 'n koerantberig, dit wat agterop 'n papboks staan, enigiets. Laat hulle verduidelik waaroor dit gaan of self dit vir jou terug lees of 'n prentjie teken van wat hulle verstaan. Speel speletjies met bak en leer hulle so van breuke en mates."
Volgens haar is daar baie gratis hulpbronne beskikbaar wat ouers kan gebruik.
"Daar is baie video's op die Wes-Kaapse onderwysdepartement se webtuiste waar lesplanne aan ouers en leerders verduidelik word. Jy het ook nie data nodig om dit oop te maak nie"
Jaco van Zyl bied ook op 'n praktiese manier hulp aan leerders om wiskunde beter te verstaan. Hy het video's met die Oudtshoorn Courant gedeel om breuke beter te verstaan en dit kan deur hoër- en laerskoolleerders gebruik word.
Kliek hier om te sien hoe om maaltafels met 'n maatband te doen.
Amanda Pieterse is ook een van die innoverende onderwysers wat 'n klaskamer by haar huis ingerig het en maak video's wat sy per WhatsApp aan ouers en leerders stuur. Hier is een van haar video's waar sy 'n geskiedenisles vir graad 5-leerders aanbied.
Die WKOD het Dinsdag inligting beskikbaar gemaak om leerders te help met huiswerk tuis.
Volg die skakel vir graad 4 tot 9.
Kliek ook op die volgende PDF-dokumente om inligting vir graad 1 tot 3 skoolwerk te kry.
- Graad 1: Interactive lesson plan 14-17 April
- Grade 1: Interactive lesson plan 14-17 April
- isiXhosa: Interactive lesson plan 14-17 April
- Graad 2: Interactive lesson plan 14-17 April
- Grade 2: Interactive lesson plan 14-17 April
- Graad 3: Interactive lesson plan 14-17 April
- Grade 3: Interactive lesson plan 14-17 April
Hoërskole
Soos met laerskole het verskeie hoërskole ook begin om huiswerk via programme soos Discord aan leerder te gee. Ander maak van hul Facebook-blaaie en Whatsapp-groepe gebruike. Stephanus Potgieter, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, het gesê met die verlenging van die tydperk, word die uitdagings groter en is die beskikbaarheid van toegang tot die internet belangrik.
"Die WKOD stuur inligting via verskillende vakadviseurs aan onderwysers waarin webtuistes gegee word om inligting te verkry. Leerlinge moet met hulle onderwysers kontak en WhatsApp groepe is gestig voordat leerlinge met vakansie vertrek het."
Die “wolkskool” (Cloudshool) is ‘n uitstekende platform om ondersteuningsmateriaal te ontvang by wyse van lesaanbiedings per video’s. Leerlinge kan daarop registreer en die skakel volg na ‘n betrokke vak, daarna ‘n spesifieke deel van die kurrikulum.
Indien leerlinge inligting as ‘n PDF-dokument ontvang, kan dit met die minimum data op enige slimfoon bestudeer word.
Skole bied ook op hulle webtuistes skakels aan wat leerlinge neem na ‘n betrokke vak. Die verskillende radiostasies doen ook moeite om kurrikulum aan te bied.Volgens hom speel ouers ‘n baie belangrike rol gedurende hierdie tyd.
"Hulle moet leerlinge kontroleer, toesien dat die werk wat aan leerlinge gegee word, voltooi word."
Hy sê verder tydskedules moet tuis uitgewerk word soos gedurende ‘n normale skooldag. Leerlinge moet daagliks skoolwerk doen, daar is te veel onduidelikhede om te dink dat die onderwysers verlore tyd maklik gaan kan inhaal.
Hoewel meeste skole en onderwysers huiswerk vir leerders gee is dit belangrik om te onthou dat die Wes-Kaapse onderwysdepartement nie opdrag aan die skole en onderwysers gegee het om dit te doen nie. Daar is ook baie leerders wat nie toegang het tot toestelle soos selfone en rekenaars het om die huiswerk te kan ontvang nie.
Kliek op die skakel om tuiswerk vir graad 10 tot 12 te kry.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'