Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die Blossoms-waterprojek wat water via 'n pyplyn van 22 km na Oudtshoorn en landelike gebiede verskaf, is voltooi.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het die week in 'n verklaring gesê hy is baie tevrede met die nuus dat die Blossoms-watervoorsieningskema onlangs die eerste water aan die Oudtshoorn Oosbank-reservoir gelewer het.
"Die Blossoms-projek sal Oudtshoorn baie bystaan met watersekerheid, veral in tye van uitgebreide beurtkrag," het minister Bredell gesê.
Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, is die pypleiding by die hoofboorgat op die Kleinfontein-plaas in die Blossoms-omgewing begin, vanwaar dit oor 1,5 km na 'n aanjaagpompstasie en reservoir gepomp word.
"Water uit die sekondêre boorgate word ook na die aanjaagpompstasie en reservoir gepomp. Vanaf hierdie reservoir word water teen 48l per sekonde gepomp na die hoofreservoir 2,5 km verder op die plaas, Chandelier. Vanuit hierdie reservoir sal water langs 'n pyplyn van 17km graviteer, en die Olifantsrivier oorsteek via die ou padbrug net buite Oudtshoorn. Daar word die water verdeel met van die toevoer wat na die landelike waterskema gaan, en die res na die Oos-reservoir naby die korrektiewe dienste-gronde om die watertoevoer na die dorp te vergroot."
Volgens Bredell se verklaring was die Wes-Kaapse departement van plaaslike regering instrumenteel tot die sukses van hierdie projek, aangesien dit die Oudtshoorn-munisipaliteit ondersteun het met sy aansoek om befondsing, projekbestuur en finansiële verslagdoening soos vereis.
"Hierdie projek moet ook gesien word in konteks van die Wes-Kaap se 15-jaar-geïntegreerde droogte- en waterreaksieplan, wat ontwikkel is om plaaslike regerings te ondersteun in beplanning en begroting vir watersekerheid in die toekoms. Die Plan sluit instrumente in om die beste alternatiewe vir elke dorp te bereken en te vergelyk om by die korrekte waterbronne en waterinfrastruktuur te pas om aan huidige en toekomstige bevolking en ekonomiese groei te voldoen," het Bredell gesê.
Volgens hom is die eerste vloei van water die resultaat van werk wat in 2001 begin is toe navorsing begin is om maniere te vind om Oudtshoorn se hoofbron van water, die Raubenheimerdam, aan te vul. Een van hierdie projekte was die boor van nege diep- en drie moniteringsboorgate binne die Blossoms-akwifeer om bykomende waterbronne te vind om die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningstelsel (KKRWSS) aan te vul.
Gedurende 2014 is putveldtoetsing voltooi om 'n volhoubare grondwateropbrengs te bepaal om die watervoorsiening vanaf die bestaande Raubenheimerdam aan te vul. Daar is vasgestel dat 60 liter per sekonde, of 5 mega liter per dag, vanaf 5 boorgate binne die bestaande Blossoms-putveld voorsien kan word. Die destydse nasionale departement van waterwese het 'n watergebruikslisensie-aansoek van 'n totale opbrengs van 8 miljoen kubieke meter goedgekeur vir die uiteindelike volle ontwikkeling van die Blossoms-putveldprojek. Waterkwaliteit van die ondergrondse bron is as goed beskou, en alle toepaslike omgewingsimpakte is aangespreek.
"Die volgende fase van die putveldontwikkeling in die streek sal ondersoeke en uitvoerbaarheidstudies insluit vir die bou van meer opgaardamme binne die Raubenheimer-opvanggebied en verdere ontwikkeling van ondergrondse waterboorgate in die Dysselsdorp-omgewing," het minister Bredell gesê.
Vorige artikel: Blossoms-waterprojek byna voltooi
VERSKAFDE VIDEO - Blossoms-waterprojek lewer water na Oudtshoorn toe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’