OUDTSHOORN NUUS - Die grootste gedeelte van 'n spesiale raadsvergadering wat gister gehou is, het gehandel oor die noodpyplyn wat van die Blossoms-boorgatprojek aangelê moet word.
David McGibbon, van die raadgewende ingenieursfirma, Umvoto, het 'n voorlegging aan die raad gedoen oor drie moontlikhede wat gevolg kan word om water vanaf die Blossoms-projek na Oudtshoorn te bring.
Opsie 1
Water word met 'n rivier langs tot naby Chandelier-wildsplaas gelei en vandaar met 'n pyplyn na Oudtshoorn gepomp. Dit is die goedkoopste opsie, maar dit loop die gevaar van groot waterverlies aangesien die rivieroewer gedeeltelik uit sand met riete bestaan.
Opsie 2
Water word vir ongeveer 4,1 km met die Kliprivier langs tot by 'n watergat gelei vanwaar dit met 'n pyplyding tot in Oudtshoorn gepomp word. Dit is die goedkoopste opsie.
Aangesien die rivierloop hoofsaaklik uit klip bestaan is waterverlies minimaal, maar koste is hoër as gevolg van 'n langer pyplyn.
Julia le Roux, Oudtshoorn se speaker en Allen Paulse, munisipale bestuurder, tydens gister se spesiale raadsvergadering. Foto's: Hannes Visser
Opsie 3
Dit is die duurste opsie waar 'n pyplyn van die boorgate af tot by Oudtshoorn gelê word.
Al drie opsies is tydelike noodpyplyne wat met die spoorlyn langs gelê word. Volgens McGibbon sal 'n dikker permanente pyplyn onder die grond gelê word as die hele projek later goedgekeur word. Hy het egter aanbeveel dat die gedeelte van die pyplyn wat deur die dorp loop, reeds 'n permanente pyp moet wees waarby die tydelike pyp kan aansluit.
Volgens McGibbon het die stadsraad nie baie tyd om te besluit watter opsie hulle wil volg nie aangesien Oudtshoorn teen die huidige tempo slegs tot 15 Desember water het.
Hy het aanbeveel dat daar onmiddellik begin word met die verkryging van materiaal om die boorgate toe te rus, pompstasies op te rig en met 'n gedeelte van die pyplyn te begin. Die koste van die projek beloop tussen R60 miljoen en R80 miljoen.
Allen Paulse, munisipale bestuurder, het voorgestel dat die raad geleentheid gegun word om na die verskillende opsies en die vordering van aansoeke om noodfinansiering vanaf die distriksmunisipaliteit, provinsie en die nasionale regering te bepaal. Daar is besluit dat 'n finale besluit volgende Vrydag tydens 'n spesiale raadsvergadering geneem sal word.
Daar is ook besluit om nuwe water-beperkings in te stel wat binnekort deur die munisipaliteit aan inwoners deurgegee sal word.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'