TUINROETE | KAROO NUUS - Hessequa Munisipaliteit ontvang tans talle klagtes en navrae gebaseer op die munisipaliteit se heffing van basiese elektrisiteitstariewe in die lig van voortdurende beurtkrag wat deur Eskom geïmplementeer word en die gevolglike nie-beskikbaarheid van krag.
Die implementering van beurtkrag deur Eskom is inderdaad ? kommerwekkende situasie, nie net vir Hessequa Munisipaliteit nie, maar vir al die munisipaliteite in die land, aangesien munisipaliteite maandeliks vaste kostes aangaan wat steeds betaal moet word ongeag of daar enige krag verbruik word.
Beurtkrag het dus nie net ? geweldige negatiewe impak op die inwoners in die Hessequa gebied, maar ook op die munisipaliteit.
Maandelikse vaste koste sluit onder andere in eksterne rente en delging wat op lenings betaal word vir die vestiging van historiese en huidige elektriese infrastruktuur, herstel en onderhoud, personeelkoste om die infrastruktuur in stand te hou, versekering op infrastruktuur, asook die maandelikse vaste koste op die munisipaliteit se elektrisiteits rekening wat aan Eskom betaalbaar is.
Eskom hef die munisipaliteit op sy maksimum aanvraag per maand, wat ‘n wesenlike invloed het op die munisipaliteit se Eskom rekening, aangesien die Hessequa munisipale area vier gewilde vakansie dorpe insluit wat baie lae verbruike buite seisoen het, maar hoë verbruike gedurende vakansie periodes ervaar.
Die impak van Eskom kragonderbrekings op die Munisipaliteit se begroting is astronomies, aangesien daar noodgedwonge addisionele kragopwekkers aangekoop moes word ten bedrae van ±R6milj. om te verseker dat water, riool en administratiewe dienste kan voortgaan ten spyte van die aanhoudende krag onderbrekings.
Die impak van onder andere die verhoogde diesel verbruik op die Munisipaliteit se 2022/2023 begroting, word op ongeveer R13milj. geskat.
Hierdie addisionele uitgawes kan nie verhaal word uit huidige tariewe nie en sal reserwe fondse aangewend moet word om hierdie tekort te finansier.
Dit is spesifiek om die voorafgaande redes hierbo, dat Hessequa Munisipaliteit nie enige afwaartse aanpassings/korting op die huidige goedgekeurde elektrisiteitstariewe kan toestaan nie.
Hessequa Munisipaliteit is voortdurend besig om maatreëls in plek te stel om elektrisiteit so effektief en ekonomies as moontlik te bestuur.
Hierdie sluit in die vervanging van straatligte met LED ligte, die opgradering van elektriese netwerke om elektrisiteit verliese tot die minimum te beperk, en die jaarlikse investering van sonkrag stelsels vir munisipale geboue. Daar word weer voorsiening gemaak vir hernubare energie in die konsep begroting vir 2023/2024.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'