OUDTSHOORN NUUS - As dit nie vir 'n oplettende en eerlike inwoner van Bridgton was nie, was die bekende filmmaker van Klaarstroom, Koos Roets, se filmfees en Kerstyd bederf.
Roets was verlede Dinsdag in Oudtshoorn en het op 'n stadium besef sy beursie met kontant, al sy kaarte en sy rybewys is weg.
Hy het nie geweet waar om te begin soek nie en het toe maar besluit om op sy spore deur die dorp terug te gaan toe sy selfoon lui. Dit was Luwayne Amsterdam wat hom laat weet het hy het die beursie opgetel en die inhoud wat in Voortrekkerweg besaai was, bymekaar gemaak.
Luwayne het Maandag aan Oudtshoorn Courant gesê hy was oorkant die munisipale gebou en het hier vir verkeer gewag toe hy sien hoe die beursie van die enjinkap van 'n verbygaande Land Rover afvlieg. "Die beursie en die kaarte het die hele pad vol gelê. Iemand het my gehelp om dit bymekaar te maak en ek het gewag en gedink die bestuurder van die Land Rover het dalk gesien sy beursie, wat hy op die kar vergeet het, het afgeval."
Op daardie stadium was Roets egter onbewus daarvan dat hy sy beursie op die enjinkap neergesit het toe hy weggetrek het. Luwayne het in die beursie gekyk en Roets se besigheidskaartjie gekry en hom geskakel.
"Ek kan nie glo dat mens vandag nog mense soos Wayne kry, wat al die moeite gedoen het en ook gesorg het dat elke kaart en elke sent weer in die beursie was nie," het Roets gesê.
Amsterdam het gesê dit was net die regte ding om te doen. "Om voor Kersfees sonder al jou kaarte en jou lisensie te sit sal vir enigiemand baie moeilik wees, en eerlikheid is altyd die beste opsie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'