Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die swart sak-aksie wat Vrydag 1 September deur die Oudtshoorniet Arno Greyling, van stapel gestuur is in protes teen hoë munisipale tariewe, het wel groot reaksie uit die Oudtshoorn-gemeenskap gelok, maar volgens Oudtshoorn se burgemeester Chris Macpherson, sal regstappe wat tot moontlike kriminele vervolging kan lei, teen Greyling geneem word.
Die "vreedsame aksie", soos dit deur Greyling beskryf word, wil die kollig plaas op verhoogde munisipale tariewe wat volgens hom en menige inwoners, insluitend sakelui van die dorp, beursies leegmaak en die koste van oorleef in Oudtshoorn buitensporig verhoog.
FOTOGALERY: Buitensporige verhogings lei tot protes
"Macpherson het bevestig dat regstappe, wat tot moontlike kriminele vervolging kan lei teen die organiseerder van Vrydag se optrede, Arno Greyling, oorweeg word aangesien hy vooraf in kennis gestel is dat sy optrede op munisipale grond onwettig is en toestemming nie verleen is nie. Die munisipaliteit is tans besig om 'n kosteberekening te doen ten opsigte van die verwydering van vullis vir albei protesoptredes. Sodra die kosteberekening voltooi is, sal Greyling 'n rekening ontvang. Hy is ook vooraf in kennis gestel dat hy vir kostes verantwoordelik gehou sal word indien hy met die protesoptrede voortgaan," het Hannes Visser, woordvoerder van die burgemeesterskantoor gesê.
Greyling het op beide 11 Augustus en 1 September inwoners aangemoedig om hul vullis in swart sakke op die stuk grond langs die CP Nel-museum, oorkant die munisipale kantore, te plaas. Tydens die eerste aksie is bykans 600 swart sakke neergesit. Met die laaste aksie is veel meer as 700 sakke ingesamel.
Volgens Greyling wil hy met die aksie die munisipale raad tot verantwoording bring vir hul besluit om tariewe, onder meer dié van riool en vullisverwydering, so "drasties" te verhoog. "Ons plaas die kollig weereens op vullistariewe en riooltariewe waaronder inwoners gebuk gaan. Ons glo dit is onwettig gedoen, veral met 'n hooggeregshofuitspraak teen riooltariewe wat per toilet gehef word. Ons het met vandag se aksie ook probeer humor inbring, maar ook om mense aan die praat te kry en betrokke te kry, want daar is nêrens om meer heen te gaan nie. Ons rûe is teen die muur," het hy gesê.
Luidens 'n verklaring van Oudtshoorn-munisipaliteit hou die ophoping van vullissakke in openbare gebiede aansienlike gesondheidsgevare in vir beide inwoners en verbygangers.
Verder sê die verklaring dat die wegdoen van vullissakke buite aangewese versamel-punte 'n bykomende las op munisipale werkers plaas.
"Hulle word gedwing om oortyd te werk om die groeiende afval aan te spreek, wat hul skedules beïnvloed. Inwoners word versoek om amptelike afvalinsamelingsdienste te gebruik en by gevestigde riglyne vir wegdoening te hou.
Macpherson het tydens 'n mediasessie ook bygevoeg dat Greyling skuldig is aan betreding van eiendom - dié van die CP Nel-museum wat tegnies munisipale grond is, dat hy 'n "event" gereël het sonder die nodige voorsorg en amptelike reëlings, rommelstrooiing, en ook dat hy veroorsaak het dat die verestoffer-verkopers wat daardie grasperk gebruik 'n verlies aan inkomste gely het weens sy "onwettige" aksie.
"Ons moet hom verantwoordelik hou," het Macpherson gesê.
In die verklaring sê die munisipaliteit dat daar 'n streng waarskuwing aan die "organiseerder van die onlangse protesgeleenthede" gerig is.
Macpherson het in dieselfde verklaring, in "geen onsekere terme", beklemtoon dat die munisipaliteit geen onwettige aktiwiteite sal goedpraat of duld nie.
"Die munisipaliteit kan nie 'n herhaling van die situasie bekostig wat in Swellendam gesien is nie. Die verontagsaming van hierdie waarskuwing laat die munisipaliteit geen ander keuse as om verdere regstappe te volg nie," het hy gesê.
Inwoners van alle dele van Oudtshoorn het hul steun aan die inisiatief verleen. Hier staan 'n paar kreatiewe Oudtshoorniete saam met die inisieerder van die aksie, Arno Greyling (naasregs).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’