CALITZDORP NUUS - 'n Bejaarde man van Calitzdorp wat tereggestaan het op aanklag van seksuele teistering van 'n 10-jarige meisie is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig bevind en ontslaan.
Johannes Geyser (63) is daarvan aangekla dat hy by twee geleenthede in 2017 die kind seksueel geteister het deur sy hand onder haar rompie in te druk en haar te betas.
Geyser was 'n aflosbestuurder van 'n skoolbus op die dorp. Die kind het voor in die bussie gesit en was die laaste leerder wat hy na skool by Savers Lane afgelaai het.
Streeklanddros Daniël Boks het in sy uitspraak gesê die staat het gefaal om belangrike getuies te roep met die gevolg dat die hof met slegs die getuienis van die kind en die beskuldigde sit. Daar is geen stawing vir die kind se getuienis.
Die beskuldigde het glo na die beweerde voorvalle in die kantoor van die skoolhoof gedreig dat hy nie tronk toe sal gaan nie en hom liewer "vrek sal skiet".
"Dit is jammer dat die staat nie die skoolhoof geroep het om te getuig nie omdat hy nie kan weier nie," het die landdros gesê.
Volgens hom het die kind 'n goeie indruk op die hof gemaak en 'n kronologiese uiteensetting van die beweerde gebeure gegee terwyl die beskuldigde se weergawe een van algehele ontkenning is.
Bewerings van soentjies en drukkies wat glo in die bus plaasgevind het, het ook eers tydens die verhoor na vore gekom terwyl geen verklarings daaroor voor die hof gebring is nie.
"Daar bestaan twyfel of skuld van die beskuldigde bo redelike twyfel bewys is en word hy vrygespreek," het die landdros afgesluit.
Geyser is deur Christo van der Bergh van die prokureursfirma Coetzee en Van der Bergh Ingelyf verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'