Update
OUDTSHOORN NUUS - Daar heers kommer oor die onverskilligheid en ongeduld van motoriste, veral op die pad tussen Oudtshoorn en George nadat twee ongelukke Vrydag op dié roete plaasgevind het.
In een van die ongelukke is 'n 48-jarige bestuurder op die toneel dood.
Die George-polisie het bevestig dat Jacques Visagie dood is in 'n ongeluk wat omstreeks 17:45 tussen 'n trok en 'n Toyota Aygo op die N12, sowat 500 meter vanaf die Klipdrift-afdraai voor die T-aansluiting plaasgevind het.
"Jacques Visagie (48), bestuurder van die Toyota Aygo, is op die toneel deur paramedici dood verklaar, terwyl die bestuurder van die trok, vir mediese sorg per ambulans na die George-hospitaal geneem is. Hy is na behandeling ontslaan.
Na bewering het Visagie beheer oor sy Toyota Aygo verloor en met die trok gebots, wat daartoe gelei het dat beide voertuie die pad verlaat en in die oop veld tot stilstand gekom het. George-polisie ondersoek tans 'n klag van strafbare manslag."
In die tweede ongeluk het die Oudtshoorn-polisie by monde van sers. Gretchen Michaels gesê dat 'n bestuurder van 'n Opel Astra gesien het hoe 'n BMW probeer het om 'n trok verby te steek. Die BMW is toe deur die trok van die pad afgedruk waarna die motor in die veld beland het.
Die voertuie betrokke was in Oudtshoorn se rigting onderweg. Niemand is beseer nie en geen klag word ondersoek nie," het die verklaring gelui.
Verskeie mense het op die Facebook-blad van Oudtshoorn Courant reageer en hulle kommer uitgespreek oor die ongeduld wat sommige bestuurders aan die dag lê.
'n Groot gedeelte van dié besige hoofroete is twee jaar gelede opgradeer en die pad is juis op verskeie plekke verbreed sodat vragmotors veilig verbygesteek kan word.
Vorige artikel: Trok en Toyota bots kop aan kop
Reddingwerkers spook om die liggaam uit die Toyota Aygo-wrak te haal. Foto's: Wyndham Ewerts
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'