Update
OUDTSHOORN NUUS - "Hy was die patriarg van die familie en nie net 'n pa vir sy eie seun nie, maar vir ons almal se kinders." So sê Denise Blaauw oor haar broer, Willie Blaauw (53) wat Saterdagnag in 'n ongeluk op die Rooiheuwelpad dood is.Blaauw sê hulle is nie seker hoe die ongeluk gebeur het nie.
"Hy was Saterdag by ons gewees. Ons as familie het regtig 'n lekker dag saam gehad. Ons vroue was in die kombuis besig en hy en die res van die familie het gesit en sing en grappies maak. Hy het die kinders geterg en elke nou en dan sy kop by deur ingedruk en gevra of ons nog okay is."
Volgens haar woon 'n familie-lid op 'n plaas op die Rooiheuwelpad en was hy op pad na haar toe toe die ongeluk gebeur het.
"Ons weet regtig nie wat daar gebeur het nie. Ons was op die toneel, maar hy was reeds oorlede toe ons daar aankom. Hy het op 'n manier uit die voertuig geval."
Blaauw beskryf haar broer as 'n omgeemens wat almal altyd wou help.
"Na my pa se dood was hy maar die man in die familie. Ons is drie susters en my ma en hy het na ons almal omgesien. Hy was ook 'n pa vir almal se kinders. Die kinders het hom almal Daddy genoem."
Blaauw sê Willie het in Mosselbaai gewoon en gewerk, maar het elke tweede naweek Oudtshoorn toe gekom.
"Hy was 'n groot familiemens. Ons was die belangrikste mense in sy lewe. Ons het sy werksmense gaan sien en hulle was ongelooflik hartseer oor Willie. Sy het gesê dit is nie net Oudtshoorn se mense wat hom sal mis nie. Hy was oral geliefd."
Die wrak van die Polo met die bedekte liggaam van die oorledene links waar paramedici hom aangetref het.
Blaauw se Polo Vivo Saterdagnag skuins oorkant die diereskut die pad verlaat en verskeie stewige heiningspale morsaf gery. Die voertuig het op sy wiele in die veld tot stilstand gekom, maar Blaauw is vermoedelik uit die voertuig geslinger. Polisielede wat op patrollie was het op die botsing afgekom en die nooddienste en die oorledene se falilielede laat weet.
Familielede en vriende het Woensdagmiddag 'n kranslegging by die botsingstoneel gehou.
Blaaue word oorleef deur sy drie susters, Maryna, Denise en Willene, sy ma, Katy en seun, Wilton (24).
Sy begrafnis is 3 November en begin om 09:00 in Saundersstraat en 10:00 by die VGK.
Kranse is Woensdag op die botsingstoneel gelê nadat die heining waarvan vyf pale afgebreek het, herstel is. Foto's: Hannes Visser.
Lees 'n vorige artikel hier: Man sterf in botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'