KAROO NUUS - Bykans 30 kunstenaars en jeugkunste-naars neem vanjaar deel aan die winteruitstalling van die gesogte kunsprojek Prince Albert Open Studios wat van eerskomende Donderdag tot Sondag (15 tot 18 Junie) plaasvind.
Dié tweejaarlikse tuisuitstalling, altyd in Junie en Desember, is gisteraand, Woensdag 14 Junie, in die plaaslike kunsgalery, Prince Albert Gallery, geopen.
Die kunsgenres tydens die vierdag-geleentheid sluit onder meer in beeldende kuns, beeldhouwerk, gemengde media, keramiekkuns, smeeysterkuns, fotografie, kwiltkuns, borduurwerk, juweliersontwerp, kuns-uit-optelgoed, funksionele kuns, beligtingskuns, drukwerk en weefwerk.
Die Open Studios-idee, een van die omgewing se top-kuns- en -toerisme-trekpleisters is dié van die kunstenaar Joshua Miles, wat dit in 2017 saam met sy vrou, Angela, in Prins Albert begin het. Die mediavennoot is die kunstydskrif, Art Times.
Kunsliefhebbers kry weer die geleentheid om kunstenaars in hul werksplek te besoek. Die bekende A-raam-uitstalborde voor dié venues sal, soos altyd, besoekers op die kunsroete lei. 'n Roetekaart is by Prince Albert Gallery beskikbaar.
Die deelnemende kunstenaars is Sue Hoppe, Cathy Brennon, Diane Johnson-Ackerman, Renée Calitz, Maruanda Wynne, Di van der Riet-Steyn, Kevin de Klerk, Erika van Zyl, Sonja Fourie, Annemarie Stone, Collette Hurt, Sheila Coutouvides, Di Smith, Sue Savage, Louis Botha, Mariana Botha, Pat Hyland, Kashief Booley, Gareth Williams en Elcado Blom. Van die algemene besoekpunte is die Prince Albert Gallery-kunsgalery, die Erika van Zyl-kunsgalery en die Karoo Looms-wewery (al drie in Kerkstraat), die Moeder Aarde-winkel (Parsonagestraat), die Striking Metal-werkswinkel (Arterialweg) en die PACT-jeugsentrum (Botterblomstraat) waar verskeie jeugkunstenaars hul werk uitstal.
Besoekers kan ook die Fransie Pienaar-museum, regoor Prince Albert Gallery, besoek vir 'n vaste uitstalling van die kunswerke van die bekende iets-uit-niets-kunstenaar Outa Lappies, oftewel Jan Schoeman. 'n Spesiale Outa Lappies-uitstalruimte is twee jaar gelede in die museum gevestig.
Die Open Studios-idee is dat kuns nooit uitsluitend is nie, maar iets wat almal wil geniet, bewonder en besit. Elke kunstenaar het 'n eie skeppingsbenadering, genre en tegniek wat vorm kry binne sy of haar eie persoonlike werksruimte en wat met kunsentoesiaste gedeel kan word.
Besoek www.princealbertstudios.co.za, of Open Studios op Facebook of op Insta-gram. Vir meer besonderhede, bel die kuns-galery Prince Albert Gallery, 023 541 1057.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’