CALITZDORP NUUS - 'n Besigheidseienaar van Calitzdorp is verlede Saterdagoggend in sy huis oorrompel en twee keer met 'n mes gesteek.
Volgens Deon van Wyk woon hy en sy vrou, Isabel, op die perseel waar hul restaurant geleë is.
"Ek het ouder gewoonte Saterdag opgestaan en die restaurant oopgesluit. My vrou was in die stort gewees. Ek was op pad terug na die woonstel toe ek my skootrekenaar en klere buite opmerk. Ek het egter gedink dat Isabel klaar is en dat sy solank die goed buite gesit het omdat sy op pad restaurant toe was."
Van Wyk sê die aanvaller was so vinnig by hom dat hy nie heeltemal besef het wat aangaan nie.
"Die man het net skielik op my afgestorm en toe begin ons stoei. Ek het hom op die buitetafel vasgedruk en toe steek hy my met die mes in die hand. Die stoeiery het voortgegaan en dis toe hy my in die skouer gesteek het."
Die aanvaller het egter op die vlug geslaan. Isabel is nie tydens die voorval beseer nie.
Volgens Van Wyk het hy 'n vriend en die polisie gebel.
"Ek het nie die omvang van my beserings besef voor ek in die hospitaal was nie."
Van Wyk sê die man het sy selfoon, klere, 'n skootrekenaar en 'n knipmes, die mes waarmee hy na vermoede gesteek is, gebuit.
"Die polisie het een man opgespoor, die skootrekenaar en van die klere teruggekry."
Volgens hom vermoed hy dat die aanvaller hulle al 'n geruime tyd dophou.
"Daar is kameras buite op en die man het mooi oor die muur in die hoek geklim waar die kamera hom nie sou opvang nie. Hulle moes geweet het hoe laat ons opstaan en die restaurant oopsluit, want ons het 'n roetine."
Van Wyk sê dit gaan onder omstandighede goed met hom en sy vrou.
Sersant Chris Spies, provinsiale woordvoerder sê: "Een persoon is in hegtenis geneem en hy het op 18 Julie in die hof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'