OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer wil met 'n projek begin waar dromme in die sentrale sakekern (SSK) van die dorp neergesit word as 'n poging om by te dra om die sakekern skoner te hou.
So het Hennie Davel, 'n lid van die besig-heidskamer en inwoner en wykskomiteelid van wyk 3, die week aan Oudtshoorn Courant gesê.
"Wanneer ek verwys na die sakekern verwys ek na die dele van Kerk- en St. Johnstraat en Voortrekkerweg en Adderley-, Hoog-, en Baron van Reedestraat. Daar is nog dele wat binne die SSK val, maar die dele vanaf Voortrekkerweg tot Kerkstraat en Adderleystraat tot Baron van Reedestraat is die hart van die dorp."
Volgens hom het die besigheidskamer voor Covid dromme aan die ou meterlesingpale vasgeketting, maar is al die dromme weg.
"Dit lyk of Hoogstraat 'n stortingsterrein is. Die munisipaliteit bly skoonmaak en vee, maar daar is nie vullisdromme nie. Die besigheidskamer wil besighede uitnooi om eienaarskap van hul dorp te neem en te help met die vullisdrom-projek."
Volgens Davel is die ander kopsere die veiligheid van inwoners in die middedorp en die slaggate.
Slaggate
"Ek het deur die sakekern gery en die slaggate getel. Daar is ongeveer 40 slaggate in Hoogstraat vanaf Kerkstraat tot by Voortrekkerweg en 15 slaggate in Adderleystraat vanaf Voortrekkerweg tot by St. Johnstraat. Kerkstraat en St. Johnstraat is mooi heel vanaf Adderley- tot by Baron van Reedestraat."
Veiligheid
Davel sê die onveiligheid in die dorp is vir hom kommerwekkend.
"Die mense wat dit kan bekostig ry na George vir hul inkopies. Die ander mense moet maar die SSK trotseer en dit sluit ons bejaardes in. Die kort van die lank is, die SSK is 'stukkend' en ek as inwoner is nie trots daarop nie en ook nie daarmee tevrede nie. Ek kan ook nie dink dat ander inwoners is nie."
Davel nooi inwoners om eienaarskap van hul eie dorp te neem.
"Kom ons maak die dorp weer iets om op trots te wees. Ons as sakekamer vra inwoners om hul bydrae te lewer."
Indien iemand insae wil lewer of wil help kan hulle Davel by 082 214 0865 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’